Vaal se Pitbull blaf saam met groot honde

Maak nie saak watter kontaksport dit is nie Danie van Heerden sal altyd voor in die ry staan

VANDERBIJLPARK. – Die gebore en getoë Vaaldriehoeker, Danie ‘Pitbull’ van Heerden (36) se klap is toe erger as sy byt! Dit het sy teenstander in die Power Slapkompetisie, die Amerikaner Jonathan ‘Big John’ Boone op die harde manier geleer.

Danie of Pitbull soos sy teenstanders en aanhangers hom ken, het vroeër vandeesmaand in Las Vegas, Amerika aan die tweede seisoen van Dana White se Power Slap: Road To The Title in die Superswaargewig-afdeling deelgeneem wat tans op www.Rumble.com uitgesaai word.

Danie van Heerden

Die deelnemers kom van oral oor die aardbol en is in twee spanne onder leiding van KO Chris Thomas en Manny Muniz ingedeel. Danie word nou deur Muniz afgerig en het nie teleurgestel nie. Hoewel die Amerikaner die loot gewen het, het Pitbull sy eerste twee klappe soos soetkoekies opgeëet.

Hoewel Danie nie sy teenstander laat harpuis ruik het nie, het elkeen van sy klappe soos skokgolwe deur sy teenstander se skedel en liggaam geskud.

Power Slap se mediese span het voor die derde rondte-klappe ingetree en Boone wat duidelik beseer was, onttrek om die oorwinning aan Van Heerden te besorg. Van Heerden-hulle mag weens klousules in hulle kontrakte nie enige verdere inligting verstrek nie.

Die hele Suid-Afrika sal dus aanstaande week aanlyn moet inskakel om te sien wie die boerpot in Sin City gaan losslaan.

“Ek hou maar self die episodes dop. Ek mag niks oor die tweede geveg sê totdat dit uitgesaai is nie. Die wêreldranglys gaan binnekort bekendgemaak word,” gee hy te kenne.

Exit mobile version