SportSportSportSport

Nuwe hoogtes wink vir Valie na borgskap

Krieket is in sy DNA en hy is bestem vir groter dinge

VANDERBIJLPARK. – Wanneer jy amper ‘n dosyn kolwe in twee jaar kisboude slaan, is dit te verstane as jou pa sy vingernaels tot in die lewe af kou.

Goeie krieketkolwe is peperduur!

Dit het Louis Fourie, pa van Rico Fourie, een van die Vaaldriehoek se belowendste kolwers, die afgelope paar jaar op die harde manier geleer.
Maar sy bekommernis en las is deesdae minder nadat Rico se agente van Global Cricket Management vir hom ‘n borgskap by Grey Nicolls Suid-Afrika beding het.
“Ons is baie opgewonde. Dit is hopelik die begin van groot dinge. Ons is baie dankbaar vir Morne Erasmus van Grey Nicolls Suid-Afrika se ondersteuning,” het Louis aan Vaalweekblad gesê.

Welkom by die Grey Nicolls-familie! Die Vaal se kolfmaestro Rico Fourie het onlangs toerusting by Performance Brand in Johannesburg gaan kry. Hy is onlangs ‘n borgskap van Grey Nicolls ryker. By hom is Kobus Bresler van Performance Brands.

Rico het vanjaar as kaptein en steunpilaar van die HS Transvalia in Vanderbijlpark se eerste krieketspan van krag tot krag gegaan. Hy is as die skool se Kolwer en Krieketspeler van die Jaar aangewys.

Hy speel ook tans klubkrieket vir die Ratels op Saterdae in die eerste liga en tydkrieket op Sondae in NWU Vaal. Hy is in beide formate een van die voorste lopiemakers.

Back to top button