SportSportSportSport

Nuwe netbal-besem vir NWU Vaal

Protea-speler gaan NWU Vaal netbal 'n oktaan-inspuiting gee

VANDERBIJLPARK. – Wanneer die leerling die leermeester word, is die sirkel voltooi.
Daarvan kan die gebore en getoë Vaaldriehoeker, Monique Reyneke Meyer getuig. Die 27-jarige Protea-netbalspeler is onlangs as NWU Vaal se nuwe netbalafrigter aangestel. Sy neem die leisels by haar voormalige afrigter en mentor, Amanda Dreyer oor. “Ek en coach Amanda loop al ‘n lang pad saam. Ons is werklik mekaar se grootste ondersteuners. Dit is vir my ‘n groot voorreg om by haar oor te neem,” sê Monique.
Hoewel sy ruiterlik erken dat sy nog baie het om te leer, sit sy nie stil nie. Haar benadering tot haar geliefde spel is eenvoudig… skuur skouers met die beste spelers en afrigters in die wêreld en hulle kennis en vaardighede sal op jou afvryf.
Sy het vroeër vanjaar een van haar lewensdrome bewaarheid toe sy vir Saracens Mavericks aan die Engelandse Vitality Super League toernooi deelgeneem het.
Sy is ook ‘n voorstander om haar kennis in die gemeenskap terug te ploeg. Daarom het sy Champs Netball Development begin.
“As ‘n produk van die Vaal het ek ‘n gaping in die vlak van vaardigheidsontwikkeling en mededinging beleef. Noudat ek die kennis en ervaring het, wil ek dit weer in die Vaal terugploeg. Champs Netball Development fokus op die ontwikkeling van vaardighede en denkprosesse van spelers om meer en sterker kwaliteit spelers te kweek,” vertel sy.

Monique Reyneke in aksie vir die Protea-netbalspan.

En wanneer sy praat kan jy gerus luister. Sy spog nie verniet met ‘n BA-graad in Menslike Bewegingskunde en Psigologie, asook ‘n Honneursgraad in Sportwetenskappe nie.
“As ‘n sportwetenskaplike gee dit my definitief die x-faktor, omdat my studies my fisies en tegnies in staat stel om goedgekondisioneerde spelers te ontwikkel en spesifieke vaardighede daaraan te kan koppel. Verder ook om die spelers so ver moontlik beseringsvry, sterk en biomeganies korrek te kondisioneer,” gee sy te kenne.
Sy sien baie uit na haar nuwe rol by die NWU Vaal.
“Om betrokke te raak by die NWU Vaal gaan verseker uitdagings oplewer, maar ek was nog nooit iemand wat weggeskram het van ‘n uitdaging nie. Ek is mededingend van natuur en sal altyd vir ‘n oplossing soek,” sê sy.

Back to top button