SportSportSportSport

Junior klubrugby kook

Junior klubrugby in die Vaaldriehoek is in veilige hande

VEREENIGING. – Meeste sterflinge sal saamstem dat daar te min junior rugby in die Vaaldriehoek gespeel word.Maar vir elke grilletjie is daar ‘n pilletjie. Junior klubrugby is in dié geval die regte medisyne om dié kwaal reg te dokter. Vroeer vandeesmaand het die Vereeniging Rugbyklub (VRK) weer ‘n suksesvolle junior klubdag aangebied.
Benewens die bykomende speeltyd in wedstrydverband kry jong spelers die geleentheid om saam met spelers van ander skole op ‘n gereelde grondslag te speel. Wyer rugbybande en vriendskappe word gesmee en individue kry die geleentheid om hulle vaardighede in samewerking met ander spelers van gehalte te ontwikkel.
Weens die toename in belangstelling en spelergetalle het die Valke Rugbyunie vanjaar besluit om die laaste junior rugbydag van die jaar op te deel. Die o.13 en o.18-spanne het by Vereeniging Gimnasium kragte gemeet terwyl die o.6 tot o.12-spanne by die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlpark-kampus slaags geraak het. Sowat 24 wedstryde is onderskeidelik by Gimmies en NWU Vaal gespeel. Vanjaar is ook ‘n spesiale jaar vir VRK se junior rugbyklub wat sy 11de bestaansjaar vier.

‘n Speler van VRK op die aanval. Foto: Ettienne van Rensburg

“Ons het daarom besluit om die dag met ‘n Golden Oldies-wedstryd af te sluit met die afrigters en pappas wat mekaar aangedurf het. Die kinders het dit baie geniet,” het Leone Coetsee, voorsitter van VRK se Junior Rugbyklub, na die dag se verrigtinge gesê. Maar waaraan kan die klub se sukses toegskryf word? “VRK is ‘n klub met waardes, waar elke kind die geleentheid gegun word om sy of haar talente te kan uitleef.
“Almal is welkom. Ons het ‘n passie en liefde vir rugby en kinders,” sê sy.
Diegene wat belangstel om by die klub aan te sluit, kan Leone by 064 902 4773 skakel of besoek hul Facebookblad, Vereeniging Junior Rugby Klub.

Back to top button