Hoekies slaan ‘n ses

Die HS Driehoek het Vrouedag met 'n krieketfees gevier

VANDERBIJLPARK. – ‘n Pienk krieketgolf het die Hoërskool Driehoek op Vrouedag getref tydens die Pienk Dogters­krieketdag wat in samewerking met Cansa aangebied is.
Die krieketdag is die breinkind van Andre van Rensburg van die HS Driehoek. “Ons wil dit ‘n jaarlikse instelling maak. Die krieketdag vorm deel van ons Gee Week by die skool. Dit gaan nie net oor geld nie. Dit gaan daaroor om die respek vir vrouens te kweek en te gee. Gee komplimente, gee jou tyd, gee ‘n skouer om op te huil of gee waardering,” sê Andre.
Andre is al lank ‘n kampvergter vir dogterskrieket in die Vaaldriehoek. “Daar is ‘n stigma aan dogterskrieket wat ons wil afbreek. Ons samel ook ou toerusting en fondse vir behoeftige krieketspelers in.
“Ons samel ook geld vir borskanker in. Die borge en die ouers het ingekoop en die hele dag het net van krag tot krag gegaan.
“Ons wil seuns weer leer en aanmoedig om respek vir hul meisies, ma’s, oumas en vrouens in die algemeen te hê,” sê hy.
Die hoekstene van die dag word in die logo uitgebeeld.
“Die hartjie is vir liefde vir jou medemens en krieket, die bal vir krieket en die kroon simboliseer dat die spelers almal die Koning se dogters is. Hierdie is ‘n lekker stresvrye geleentheid vir die dogters om net krieket te speel en dit te geniet.”
Diegene wat belangstel om toerusting te skenk of enige bydrae wil maak, kan André by 082 577 0108 kontak.

 

 

Die dogters wat aan die Pienkkrieketdag deelgeneem het dans die Church Clap. Foto: Ettienne van Rensburg
Exit mobile version