SportSportSportSport

Valies bult hul spiere op internasionale verhoog

Die Vaal se dinamiese duo neem liggaamsbou tot nuwe hoogtes

VEREENIGING. – Die prentjiemooi kusstad van Taranto in die suide van Italië sal altyd ‘n spesiale plekkie in Murrey Laney (31) en Michelle Jacobs (30) se harte hê.

Met bultende spiere en kurves op al die regte plekke het Lany Murrey en Michelle Jacobs onlangs die titel as Mr en Mrs Universe in Italië ingepalm.

Jare se harde werk is op dié lappie grond tussen die Mar Grande en Mar Picollo beloon en ‘n lewensdroom is bewaarheid toe dié twee Vaaldriehoekers onlangs as die 2023 Mr & Mrs Universe IFBB Power Couple gekroon is.
Die duo is sedert hulle samekoms in 2021 onoorwonne in elke kompetisie waaraan hulle deelneem.

Murrey wat ‘n bestaan maak as ‘n persoonlike instrukteur by Virgin Active in Drie Riviere, het derde in die Classic Bodybuilding en Mr Muscle-afdeling geëindig, terwyl Michelle ‘n derde plek in die Ms Fitness en vyfde plekke in die Miss Fitness Model en sportmodel-afdeling behaal het.

Dit was genoeg om as ‘n paartjie die titel voor die ander teenstanders weg te raap en hulle afrigters, Julian-Lee Randhari en Nadine Kristin Yates, breed te laat glimlag. Maar soos enige suksesverhaal was daar baie struikelblokke en teleurstellings. “Die pad na Italië het eintlik al in 2021 begin. In 2021 is ons deur die International Bodybuilding & Fitness Federation (IFBB) gekies om deel te neem aan die Wêreld Kampioenskap in 2022 in Slovenië.
“Ons het ongelukkig nie ons visas betyds gekry nie en ons het ‘n groot finansiële verlies gely, want ons vlugte en verblyf was reeds betaal. Na die terugslag het ons twee keueses gehad, om weer te kwalifiseer, of ‘n jaar uit te sit. Ons het besluit om ons alles te gee.

Ses kompetisies later en ons is genooi om Suid-Afrika in Italië te verteenwoordig. Die Mr & Miss Universe word jaarliks gehou en net die beste van die beste in die IBFF van regoor die wereld word gekies om hul land te verteenwoordig,” vertel Murrey
Michelle wat ‘n besigheidontwikkelingsbestuurder by Postnet in Drie Riviere is, is geen vreemdeling vir deelname aan sport op die hoogste vlak nie. Sy het Suid-Afrika in judo en amateur-stoei verteenwoordig voordat die liggaamsbou-gogga haar gebyt het.

“Dit is ‘n sport wat soveel meer is as net gewigte optel en op ‘n verhoog te gaan pronk soos ‘n skouperd. Dit beproef ons fisiese en geestelike krag op vlakke wat ons nooit ge­dink het moontlik is nie.

Somtyds raak dinge moeilik en jy is moeg, honger en sommer lus vir allerhande snaakse etes wat glad nie deel is van jou plan nie, maar dan moet jy deurdruk en jouself bewys. Wat die sport ook lekker maak is dat jy altyd kan verbeter, maar as jy slap lê, dan vertoon dit.

Wat jy insit, is wat jy uitkry,” vertel Michelle. Behalwe vir al die swoeg en sweet op die verhoog het die duo darem kans gekry om Italië te verken.

“Ons het ses uur per trein na Rome gereis waar ons twee dae spandeer het voor ons teruggekeer het SA toe. In Rome is daar so baie om te sien. Dit is ‘n asemrowende bestemming.

Ons het Rome platgeloop en in een dag sowat 26 km geloop om al die geskiedkundige besienswaardighede rondom Rome te verken. Die Colosseum was my gunsteling en die Roman Foru Michelle s’n,” vertel Murrey. Hoe dit ookal sy, sending Taranto was ‘n reusesukses wat die 16 weke se voorbereiding en opofferings die moeite werd gemaak het.

Back to top button