Koos is koning

VEREENIGING. – Die Vereeniging-rugbyklub (VRK) staan op die drumpel om geskiedenis te maak. Die klub se eerste rugbyspan het Saterdag sy plek in die eindstryd van die Valke Peregrine-liga bespreek toe hy vir Springs met 48-35 in die halfeindronde geklop het. Vereeniging kom eerskomende Saterdag voor sy grootste uitdaging van die seisoen te staan, wanneer …

VEREENIGING. – Die Vereeniging-rugbyklub (VRK) staan op die drumpel om geskiedenis te maak.
Die klub se eerste rugbyspan het Saterdag sy plek in die eindstryd van die Valke Peregrine-liga bespreek toe hy vir Springs met 48-35 in die halfeindronde geklop het.
Vereeniging kom eerskomende Saterdag voor sy grootste uitdaging van die seisoen te staan, wanneer hy Brakpan op die Barnard-stadion in Kempton Park in die eindstryd aandurf.
Die sommetjie is eenvoudig. Klop Vereeniging vir Brakpan, verteenwoordig hy die Valke in die gesogte Gemeenskapbeker. Dit sal die eerste keer wees dat ’n klub van die Vaaldriehoek dit vermag.
“Ons gaan Saterdag nie net opdaag om getalle vol te maak nie. Ons gaan vir ’n wen. Ek glo vas ons kan hulle wen. Ons weet hoe om hulle te troef. Ons het hard gewerk die seisoen. Die spelers se selfvertroue groei by die dag.
“Ons bereik nou ons beste spelpeil op die regte tyd. Die voorspelers het Saterdag ’n reuse verbetering getoon. Solank ons nie sagte drieë afstaan nie, gaan hulle bloedsweet om ons te wen,” het ’n trotse Stefan Jacobs, hoofafrigter van VRK se eerste rugbyspan, gesê.
Die Panne het Saterdag in die ander halfeindstryd vir Vaal Reefs met 73-7 karnuffel om sy onoorwonne rekord die seisoen te behou. Die Panne het rustyd reeds 45-0 voorgeloop en die versneller verder in die tweede helfte platgetrap.
Wat Vereeniging se halfeind-sege betref, het die tuisspan met ’n derde opeenvolgende oorwinning die seisoen oor die eens magtige Springs gewys dat sy vorige seges nie vloekskote was nie. So gepraat van ’n driekuns, verdien die rare driekuns aan drieë van Koos Bosman, losvoorspeler van Vereeniging-rugbyklub se eerste rugbyspan, ook spesiale vermelding.
Bosman was Saterdag ’n doring in die besoekers se vlees. Hy was alomteenwoordig. Sy donkiewerk en vermoë om op die regte plek op die regte tyd op te duik is nie net met drie drieë, maar ook met die toekenning as die Speler van die Wedstryd beloon.
Die tuisspan het vanuit die staanspoor die krane oopgedraai en rustyd met 20-11 voorgeloop. Springs het Saterdag verskeie ou manne gegroet en wou die swanesang van die uittredende spelers spesiaal maak.
Met die telling op 35-11 in Vereeniging se guns wou dit voorkom asof die skrif aan die muur was, maar Springs het begeesterd teruggeveg om uiteindelik met 48-35 waardig die knie te buig.
Vereeniging was met tye klinies in die uitvoering van sy wedstrydplan, maar ’n onverklaarbare insinking en twee sagte drieë in die tweede helfte het Springs in die tweestryd gehou.
Hoewel daar baie positiewes uit die wedstryd geneem kan word, sal veral Vereeniging se korrelwerk pale toe ’n bron tot kommer wees. Die span se skopper het altesaam sewe skoppe gemis. Die grootse kopseer is egter die kniebesering van sy vuurvreter vaskopstut, Uli Muller. Dit sal ’n groot terugslag wees as hy nie betyds herstel nie. Indien VRK Saterdag verloor beteken dit nie die einde van die Gemeenskapbeker-droom nie.
Die span sal in twee uitspeelwedstryde teen moontlik die naaswenner van die Leeus en die Blou Bulle die geleentheid kry om te kwalifiseer.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version