Dit was ’n lang maand in die politiek

Die afgelope maand was weer ‘n lang maand in die politiek. Die DA leiersverkiesing en die opwelling in steun vir spesifiek Afrikanerbelange, het uitgestaan.

Gerhard van der Merwe

Die afgelope maand was weer ‘n lang maand in die politiek. Die DA leiersverkiesing en die opwelling in steun vir spesifiek Afrikanerbelange, het uitgestaan.

Dit is egter jammer dat hierdie twee gebeure in dieselfde tydperk plaasgevind het. Sommiges interpreteer verkeerdelik die uittog van Afrikaners uit die DA as ‘n reaksie op Mmusi Maimane se verkiesing as DA leier. So ‘n interpretasie is oppervlakkig en gebaseer op geykte persepsies en kom neer op rasse vooroordeel. So ‘n verskuiwing in lojaliteite gebeur immers nie oornag nie.

Belangrike snellerfaktore was eerder die aanvalle op ons kultuurgoedere en taal en die DA se reaksie, of gebrek daaraan, daarop. Die feit is ook dat dit oor die laaste twintig maande duidelik geword het dat die DA ‘n gans nuwe rigting inslaan wat sekere kernwaardes verwater, wat vroeër as ononderhandelbaar aan kiesers voorgehou is. Die steun vir swartbemagtigingswetgewing en regstellende aksie verwys spesifiek.

Voeg hierby die stilswye uit DA geledere oor kwessies wat Afrikaners na aan die hart lê soos moedertaalonderrig, asook die halfhartige DA kommentaar op die aanvalle op Afrikaner kultuurgoedere, en dit is duidelik dat die DA nie gesien wil word dat hulle enigsins erkenning gee aan enige vorm van groepsbelange nie. Die DA se ongekwalifiseerde steun aan die ANC se “transformasieplan”vir die Puk het ook bogenoemde bevestig. In die lig hiervan is dit bykans onafwendbaar dat Afrikaners die party sal verlaat vir ‘n party wat onbeskaamd hul belange vooropstel.

In hierdie geval die VF Plus. Om gematig en konstruktief by te dra tot die vooruitgang van die land, beteken immers nie om kernwaardes en beginsels prys te gee nie. In hierdie opsig het die DA eerder hierdie kiesers verlaat, en nie andersom nie.

Oor die meeste breër beleidskwessies (ekonomiese beleid, werkskepping, infrastruktuurontwikkeling ens.) is daar min substantiewe verskille tussen die meeste partye. Dit is ook duidelik dat Afrikaners begin besef dat die bevordering van groepsbelange nie op rassisme neerkom nie, solank jy dit nie doen ten koste van die regte en belange van ander groepe nie. Hierdie herskikking van die politieke toneel sal waarskynlik uitbrei soos ander minderheidsgroepe hulself ook meer effektief begin organiseer om hul spesifieke belange te bevorder en te beskerm. Dit is ‘n natuurlike proses wat wêreldwyd in verskillende vorms beslag kry in diverse gemeenskappe.

Die logiese, positiewe gevolg hiervan is dat dit koalisiepolitiek, gebaseer op wedersydse respek, in die hand werk en magsmisbruik deur die meerderheid beperk. Suid-Afrikaners begin duidelik kennis neem van moderne staatkundige- en politieke oplossings waar diversiteit gevier word as ‘n bate vir ‘n land, en nie gesien word as ‘n bron van konflik nie.

Exit mobile version