DA steun nie die geveg om die Puk nie

Dr. Pieter Groenewald (LP), VF Plus, skryf: Die skrywe van Belinda Bozzoli, die DA se woordvoerder oor Hoër Onderwys (Herald 01/05/15) oor die NWU-Puk, het betrekking. Sy bevestig dat die DA die verslag van die parlement se komitee oor Hoër Onderwys betreffende die NWU-Puk onderteken het en ten volle ondersteun, en dat dit in ooreenstemming …

Dr. Pieter Groenewald (LP), VF Plus, skryf:

Die skrywe van Belinda Bozzoli, die DA se woordvoerder oor Hoër Onderwys (Herald 01/05/15) oor die NWU-Puk, het betrekking.
Sy bevestig dat die DA die verslag van die parlement se komitee oor Hoër Onderwys betreffende die NWU-Puk onderteken het en ten volle ondersteun, en dat dit in ooreenstemming is met die DA se beleid.

Wat belangrik is, is dat enige verslag se krag lê in die aanbevelings wat die verslag maak. Dit is wat bepaal wat die verdere optrede gaan wees en wat gedoen moet word. Die aanbevelings van die verslag, wat die DA en ANC ondersteun, bepaal die toekoms van die NWU-Puk. (Hierdie aanbevelings word volledig op ‘n ander bladsy weergegee).

Die verslag beveel o.a aan dat die NWU weg moet beweeg van die huidige federale bestuursmodel na ‘n unitêre eenheidsmodel, dat NWU-Puk se studentegetalle die demografie van die land moet weerspieël, dat veeltaligheid bevorder moet word, dat Afrikaans nie studente mag uitsluit nie, en baie meer.

Almal weet dat die praktiese uitvoering van hierdie aanbevelings die einde van die NWU-Puk en Afrikaans as medium van onderrig gaan beteken soos dit by al die ander oorwegend Afrikaanse universiteite gebeur het. Wat Bozzoli eintlik sê is dat dit in ooreenstemming is met die DA se beleid oor Hoër Onderwys.

Die visekanselier, prof. Dan Kgwadi, bestuur al hierdie aanbevelings en wil die indruk skep dit is sy persoonlike beleid en inisiatief. In werklikheid is hy maar net ‘n lakei van die ANC regering wat die NWU-Puk wil vernietig as uitnemende universiteitskampus en wat Afrikaans as medium van onderrig geleidelik wil vernietig.

Dit was net die Vryheidsfront Plus wat teen hierdie verslag gestem het. Die NWU-Puk het ‘n grondwetlike reg om Afrikaans as medium van onderrig te gebruik. Tans kan slegs twee van die 38 kampusse in die land as oorwegend Afrikaans beskryf word. Blykbaar gun die ANC nie eers dit aan Afrikaanssprekendes nie. Potchefstromers moet kennis neem dat die DA dit onderskryf en ons nie in hierdie geveg in die Parlement gesteun het nie.

Exit mobile version