Geniet ‘n lewe gevul met vrede

As die wonder in jou lewe gebeur dat jy ‘n kind van God word, ontvang jy ‘n nuwe lewe waarin jy rus en vrede in die Here ervaar.

Ds. André Kok, NG Kerk-leraar

Lees Romeine 8:1-14

As die wonder in jou lewe gebeur dat jy ‘n kind van God word, ontvang jy ‘n nuwe lewe waarin jy rus en vrede in die Here ervaar.

Die Heilige Gees bring ‘n allesveranderende omwenteling in die hart en lewe van die gelowiges. Hy lei die kinders van God en sorg dat daar ‘n onbreekbare band tussen hulle en hulle hemelse Vader is (Die Boodskap, Rom 8:15,16).
Die kinders van God is “in Christus”. Dit beteken dat die Heilige Gees hulle onder die bevrydende mag van die genade laat leef (Die Nuwe Lewende Vertaling, Rom 6:14).

Die Boodskap sê treffend dat God se oordeel vir gelowiges vir altyd verby is en dat die Heilige Gees hulle splinternuut maak (Rom 8:1).

God het met die sonde afgereken deur sy Seun in die gestalte van ‘n sondige mens te stuur om as ‘n offer vir ons sonde te sterwe (Rom 8:3). Ons is daardeur vrygemaak van die straf en die mag van die sonde.

Die nuwe lewe wat Hy aan die kruis verwerf het vir almal wat in Hom glo, word deur die Gees aan ons geskenk, sodat ons gehoorsame mense kan word wat nie deur die sonde oorheers word nie, maar deur die Gees (Rom 8:4). Om werklik die heerlike, nuwe lewe te ontvang en te geniet, moet ons gedagtes deur die Gees beheer word. Dan sal ons met sy krag daadwerklik ‘n einde kan maak aan ons sondige praktyke (Rom 8:6).

Wanneer ons ons sondige aard oorwin deur gehoorsaam te wees aan die leiding van die Heilige Gees, ontvang ons ware lewe en vrede, want dit is die dinge waarmee die Gees Hom besig hou (Rom 8:6).

Onder die invloed van die Gees beleef ons oorwinning en lewe. Dit is die volle, ryk lewe waarin ons ons deur die Gees laat lei. Dan ondervind ons die blydskap en liefde wat kinders van God geniet omdat hulle aan die Here verbonde is.
Vrede dui nie slegs op ‘n innerlike kalmte nie, maar veral op ‘n reggestelde, harmonieuse verhouding met God, asook ‘n nuwe opbouende verhouding met die medemens.

Dan ervaar ons rus en geluk in die hart.

Gebed: Vul my hart met u vrede, o Here, sodat ek die geluk van die ware lewe kan vind en in vrede met my medemens kan lewe!

Exit mobile version