Hoe sê ore – 22 May 2015

Ore dink die nuwe spoedbeperking van 40km/u wat hulle nou in dorpstrate wil instel kan sommer ‘n baie goeie ding wees. Veral vir ons plaaslike verkeersafdeling!

Skraler spietkops

Ore dink die nuwe spoedbeperking van 40km/u wat hulle nou in dorpstrate wil instel kan sommer ‘n baie goeie ding wees. Veral vir ons plaaslike verkeersafdeling! Ore sal, sodra die 40km/u ingestel word, voorstel dat al die spietkopkarre dadelik ingetrek en met fietse vervang word. Die spietkops kan dan die karre sommer met die fiets van agter inry om boetes te gee of vinger te wys. Ons gaan klomp petrol spaar en dink net hoe goed gaan dit vir ons spietkops se gesondheid wees om fiets te ry. Dié wat vinnig kan hardloop kan selfs sonder fietse klaarkom!

Padwoede

Ore lees ’n vrou skryf anderdag in Beeld sy kan verstaan hoekom mans by so baie padwoede betrokke is. Want dit is omdat hulle nie kan bestuur nie en nie by padreëls hou nie. Ore dink sy praat bietjie vinnig. Wie ry die meeste keer met ’n selfoon teen die oor? Vroue natuurlik! En wie is die grootste sondebokke by vierrigtingstoppe? En wie hou die meeste skeef in parkeerplekke stil? Vroue natuurlik! Wie stry?

Moeilike taak

Ore vermoed dit moet ’n baie moeilike taak wees om die instelling van daardie groen pyltjie by die verkeerslig op die hoek waar Albert Luthulistraat nou gesluit is te verander.  Klomp mense het nou gevra dat die pyltjie afgesit word omdat dit geen doel dien met die pad wat nou toe is nie, maar dit gebeur nie. Ore dink iemand moet seker van êrens ingevlieg word om dié moeilike taak te kom verrig.

Goue Oor

Voordat Potch se spietkops Ore daarvan beskuldig dat hy iets teen hulle het wil Ore vir hulle, of vir een van hulle, ’n Goue Oor gee. Ore hoor ’n spietkop het nou die dag verkeer gaan reguleer by ’n kruising. Welgedaan!!  Gaan wys tog asseblief vir u kollegas ook hoe dit werk.

Exit mobile version