Amerikaanse voertuie kom byeen vir ‘n goeie doel

Die Jeeps en Mustangs van Suid-Afrika het laer getrek rondom JC van den Berg (26).

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Kry ons gedrukte koerant elke Vrydag vir al die jongste nuus eerste.

MEYERTON – Die Jeep Klub van Suid-Afrika en Klipdraai Karavaanpark het tydens die Legends Charity Drive & Topless Day op Erfenisdag broodnodige gelde ingesamel vir JC van den Berg (26), ‘n Suid-Afrikaner in die V.S.A. wat ‘n hartoorplanting moet kry.

Eienaars van Jeeps, Ford Mustangs en Harley Davidsons het op die oggend van 24 September by Town Square in Constantia Kloof, Roodepoort byeengekom en van daar af na die Klipdraai Karavaanpark in Meyerton gery, waar hulle die dag saam om die braaivleisvure geniet het, met kunstenaars wat heeldag opgetree het.

Volgens Michiel Nieuwoudt, eienaar van Klipdraai Karavaanpark, gaan die geld wat tydens die dag ingesamel is vir JC van den Berg, ‘n 26-jarige man van Viljoenskroon in die Vrystaat, wat R13m kort vir ‘n pasaangeër, sowel as ‘n hartoorplanting in die Verenigde State van Amerika.

Van den Berg, wat met ‘n H-2A-visum na Amerika is om te gaan boer, is op 22 Mei in die waakeenheid van die Ochsner Medical Centre in New Orleans opgeneem.

Hy kort ‘n hartoorplanting.

Die operasie beloop glo bykans $750 000 (sowat R13m).

Nieuwoudt het almal bedank wat aan die dag deelgeneem het en laat weet dat die teiken bereik is.

Dit gaan goed met JC. Hy kan ongelukkig in hierdie stadium geen werk verrig nie. Hy stap ‘n entjie en moet dan eers gaan sit. Hy is egter vol moed en vol gees,” het Nieuwoudt aan Vaalweekblad gesê.

Die Jeep Club SA is ‘n Suid-Afrikaanse klub wat voorsiening maak vir eienaars van Jeep en Willy voertuie.

Bronek Cholewka agter die stuur van sy 1941 Willys Jeep – ‘n model wat terugdateer uit die Tweede Wêreldoorlog. Hy het die voertuig op ‘n plaas in Limpopo gevind en dit oor ‘n tydperk van sewe jaar gerestoureer. Foto: Christiaan Cloete
Neil Delpaul en Leslie-Ann Schultz van Meyerton by Neil se wit 2024 Ford Mustang 5l California Special. Foto: Christiaan Cloete
Joshua Cholewka in sy mini Jeep. Foto: Christiaan Cloete

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version