Is die CW-areas se krag nou reg?

Met nog 'n kouefront op hande, wonder inwoners of hul maar hul gasstowe en kerse kan bêre.

VANDERBIJLPARK – Vir inwoners van die CW-areas was September tot dusver ‘n donker maand nadat die Dorp Substasie gebrand het. Teen 21 September wou inwoners amper begin glo die elektrisiteit gaan hou, maar dit was van korte duur.

CW1, CW2, CW3 en ‘n gedeelte van CW6 het skielik laatmiddag sonder krag gesit. Teen Sondagoggend het die krag sporadies aangekom. Afgegaan. Aangekom. Afgegaan.

Nadat Vaalweekblad navrae gerig het Maandagaand, 23 September het Chuchi Radebe, Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, se woordvoerder gesê dat daar gevind is dat die Town North kontrolekamer breaker lae stellings het.

Die verkeerde stellings het blykbaar tydens die groot herstelproses na die brand plaasgevind. Dit veroorsaak dat die krag bly uitskop.

Om die probleem hok te slaan, is daar toe met die load reduction (lading vermindering) op ‘n rotasie basis begin op 23 September.

Intussen sou die tegnici die lading op die problematiese breaker stelselmatig vermeerder.

Volgens die mediavrystelling wat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se kommunikasieafdeling laat Maandagaand uitgereik het, sou CW1, CW2 en CW3 ten minste tot 26 September beurtlading ervaar.

Die areas het nie verder die week enige kragonderbrekings ervaar nie. Op navraag is daar nie ‘n definitiewe antwoord gegee dat die oorspronklike probleem opgelos is nie.

Neem mens in ag dat ‘n kouefront vanaf 20 September mense weer na verwarmers laat reik het en dat dit die oorsaak was van die ekstra lading op die problematiese breaker was, is die vraag nou of die probleem opgelos is en of daar net minder krag gebruik word?

Intussen word daar voorspel dat nog ‘n kouefront Suid-Afrika van vandag kan tref. Miskien moet inwoners maar hul gasstowe, kerse en solar ligte byderhand hou. Net vir ingeval…

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version