News

Oud-onnie hoop om weer te loop

Indien die operasie ‘n sukses is kan dit hom moontlik help om eendag weer te loop.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

MEYERTON – Mnr. Jerry Fowlds, ‘n bekende oudonderwyser wat meer as 43 jaar skool gegee het, sukkel die afgelope paar jaar met sy gesondheid en benodig nou hulp vir ‘n mediese prosedure wat sal help om sy limfdreinering te verbeter.

Indien die operasie ‘n sukses is, kan dit hom moontlik help om eendag weer te loop.

Fowlds, wat altyd baie aktief was en alles van staptoere, fietstoere en daguitstappies gereël het, se gesondheid het in 2011 ‘n negatiewe wending geneem toe hy met prostaatkanker gediagnoseer is.

Hy het bestraling daarvoor ontvang en was vir twee jaar in remissie, totdat daar in 2014 kankergewasse in sy buik gevind is.

Daarna het hy verdere bestraling ondergaan. Die komplikasies van die bestraling het egter ‘n groot negatiewe uitwerking op sy lewenskwaliteit gehad.

Sedertdien het hy gesukkel met sy been.

Die laaste paar jaar was ‘n groot uitdaging vir Fowlds, aangesien sy been al hoe meer probleme begin gee het.

In 2023 het hy homself bedlêend bevind.

Na besoeke aan 11 verskillende dokters is vasgestel dat hy ‘n heupvervanging benodig.

Die dokter het die operasie as een van die moeilikste in sy loopbaan beskryf weens die verbrokkeling van sy been.

Dit het egter nie die probleem opgelos nie, aangesien littekenweefsel in sy lies die bloedvloei en limfdreinering beïnvloed, en senuwees vasdruk.

In 2024 het hy ‘n limfchirurg geraadpleeg wat hoopvol is dat ‘n prosedure (vier limfomleidings) sy limfdreinering sal verbeter.

Hierdie prosedure word egter nie as ‘n “mediese intervensie” gesien nie, omdat dit nog baie nuut in Suid-Afrika is, en word dus slegs gedeeltelik deur die mediese fonds gedek.

Die gedeelte wat hy self moet betaal, word konserwatief beraam op R100 000. Dit sluit nie al die nasorg in (soos wondsorg, spesiale verbande en fisioterapie) nie.

Tot op hede het hy al die addisionele koste en sorg vir die afgelope paar jaar uit sy eie sak betaal.

Hierdie prosedure is slegs een van drie wat hy moet ondergaan om hopelik sy lewenskwaliteit ten volle te herstel en sonder daaglikse, ondraaglike pyn te wees.

‘n Back a Buddy groep “Hoop op Loop vir Mnr. Jerry (Hope to Walk)” is gestig om fondse vir hom in te samel. Mense wat graag wil bydra of help kan die groep op die Back a Buddy-webwerf gaan soek.

Jerry Fowlds.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button