News

Moord op Armand: Verkeerde teiken

Die aanvallers was waarskynlik agter iemand anders aan.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Koop ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

VEREENIGING – Toe gewapende aanvallers op 17 April op Armand Swart (30), ‘n laevlak werknemer van ‘n plaaslike ingenieursmaatskappy in Duncanville, losgebrand het, het hulle hom moontlik met ‘n fluitjieblaser wat by dieselfde maatskappy werk verwar.

Die pa van twee, het in April in ‘n koeëlreën voor sy werkplek in Van Riet Lowestraat in Duncanville gesterf toe daar vanuit ‘n wit voertuig op Armand losgebrand is.

Op die betrokke oggend het ‘n voertuig langs Armand ingetrek terwyl hy in sy bakkie voor ‘n elektriese hek gewag het.

Hy is volgens hofstukke 23 keer geskiet, maar nou blyk dit dat die aanvallers moontlik agter ‘n kollega van hom aan was, maar dat hulle weens ‘n verwarring die verkeerde persoon geskiet het.

‘n Skermgreep uit die video van die skietery.

‘n Ondersoek deur die aanlyn nuuswebblad News24 het vandeesweek onthul dat die moord op Armand gevolg het skaars twee weke nadat ‘n fluitjieblaser bedrog met tenderpryse by Transnet aan die kaak gestel het.

Volgens die nuuswebwerf het die ingenieursmaatskappy twee weke voor Swart se moord ontdek dat ‘n eenvoudige veer wat deur hulle vervaardig word wat skaars groter as ‘n vinger is en R3.20 kos vir R152 ‘n stuk (‘n opgeblaaste koste van meer as 4500%) aan die semi-staatsinstelling verkoop is.

Die staatsbeheerde vrag- en logistieke maatskappy het glo ‘n besending van 8000 van hierdie vere teen ‘n bedrag van R1.2m aangekoop, wat veel meer is as die R25 000 wat hulle eintlik daarvoor moes betaal het.

Nadat ‘n fluitjieblaser die 4650% styging in die prys aan Transnet gerapporteer het, is daar volgens die nuuswebwerf glo R1m betaal om die fluitjieblaser te laat uithaal.

Armand Swart wat in ‘n koeëlreën voor sy werkplek gesterf het.

Die beweerde skieters, Tlego Floyd Mabusela, Musa Kekana en Michael Pule Tau (‘n veteraanspeurder van Johannesburg) is op dieselfde dag van Armand se moord in Bramley in Johannesburg in hegtenis geneem en staan nou tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg en klagtes wat verband hou met die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.

‘n Analise van selfoontegnologie wat as deel van die misdaadondersoek gedoen is, toon dat die verdagtes dae voor Armand se moord – op 13, 14, 15 en 16 April – in die omgewing van sy werkplek was vir moontlike beplanning.

Wyle Armand Strydom.

 

Back to top button