Prokureur van rol geskrap weens POF-uitbetalings

Sy is van die rol van prokureurs geskrap.

VANDERBIJLPARK – Elmarie de Vos, ‘n regsgeleerde wat vir etlike jare ‘n prokureursfirma in die Vaaldriehoek bedryf het, sowel as haar eie regsfirma Elmarie de Vos Ingelyf, is op 13 Augustus deur die hooggeregshof van die rol van prokureurs, aktebesorgers en notarisse geskrap.

Dit volg nadat De Vos glo gelde wat deur die padongelukkefonds aan padongelukslaggofers uitbetaal is, verduister het.

Onder De Vos se slagoffers tel talle mense wat in ongelukke was, vir wie De Vos met eise bygestaan het.

Die bedrag ter sprake beloop volgens ‘n forensiese verslag wat Vaalweekblad gesien het minstens R8m.

Die regspraktisynsraad het ‘n ondersoek van stapel gestuur nadat verskeie klagtes teen De Vos aanhangig gemaak is.

Die hof het ook De Vos verbied om haar trustrekeninge te hanteer of te bedryf en het die direkteur van die regspraktisynsraad in Gauteng as kurator aangestel om trustrekeninge en rekeninge te administreer.

Die hof het ook vir De Vos beveel om onmiddelik rekeningkundige rekords, lêers en dokumente met betrekking tot enige gelde wat ontvang is aan die hof te oorhandig. Lede van die publiek wat voel dat hulle deur De Vos ingeloop is kan die regspraktisynsraad kontak en gelde wat op ‘n soortgelyke wyse verduister is kan by die Prokureurs Getrouheidsfonds geëis word.

Een van die slagoffers het aan Vaalweekblad vertel hoe De Vos uitbetalings wat vir haar bedoel was weerhou het.

“Die padongelukkefonds het my al ‘n paar jaar gelede uitbetaal, maar Elmarie het ‘n gedeelte van die bedrag weerhou. Ek het begin navraag doen en is later na die regspraktisynsraad nadat ek onraad vermoed het. Ek was een van die mense wat haar aangevat het. Dit was ‘n lang proses wat vier en ‘n half jaar geneem het. Ons het lank baklei en net nie opgegee nie. Aan die einde van die dag het geregtigheid geseëvier,” vertel die slagoffer.

“Ek kry mense jammer wat nooit baklei het nie, mense wat nie eers weet dat hulle nog geld moes gekry het nie,” meen die slagoffer.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version