News

Ma stig kinderfonds om vermoorde seun se nalatenskap te vereer

Die kinderfonds is na haar vermoorde seun vernoem.

MEYERTON – “Hy was iemand wat ‘n passie gehad het vir liefdadigheid en om ander mense te help.”

Só vertel Karien de Bruyn wat nou ‘n nie-winsgewende maatskaappy op die been gebring het om behoeftige mense in die gemeenskap te help.

Die Lazaro-kinderfonds is na haar vermoorde seun, Lazaro (19), vernoem.

Lazaro de Bruyn.

Die doel van die fonds is volgens Karien om verligting aan behoeftige mense in die gemeenskap te bied – veral behoeftige kinders.

Lazaro se liggaam is vroeër vanjaar in ‘n veld langs die D1184-pad by Goeiehoek gevind nadat hy vermis geraak het.

Hy het verskeie skietwonde gehad. Hoewel die polisie steeds die moord ondersoek, is daar ná maande nog nie enige ooglopende vordering met die saak gemaak nie en bly Lazaro se moord dus ‘n raaisel.

Lazaro De Bruin.

Volgens Karien het sy en haar seun voor sy dood gereeld uitreike gedoen waartydens hulle kos en klere aan behoeftige mense geskenk het.

“As ons na kinderhuise gegaan het, het Lazaro elke keer feitlik ons hele huis leeggedra en dit uitgedeel, soveel so dat ek vir hom een keer gesê het: ‘Hey, ek sorg al klaar vir jou, ek kan nie vir die hele Meyerton sorg nie’,” vertel Karien.

Karien vertel ook Lazaro het een keer ‘n splinternuwe baadjie uitgetrek en dit vir ‘n voetganger gegee wat in die koue gestap het.

“Hy sou altyd mense help. Dit was maar net die tipe mens wat hy was,” vertel Karien.

Mense wat belangstel om tot die fonds by te dra kan die amptelike Facebook-blad of TikTok-rekening of die webtuiste van die Lazaro Children’s Fund (Foundation) besoek.

Kontak ook vir Karien De Bruyn (voorsitter) by 072 094 1272, Susan Naude (ondervoorsitter) by 072 744 8109 of Bianca Venter (sekretaresse).

Die bankbesonderhede van die Lazaro-kinderfonds.

You can read the full story on our App. Download it here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button