Bekende koffievrou en man se maatskappy voorlopig gelikwideer

'n Sakeman beweer Marx en haar man het hom uit R32 miljoen geswendel.

VEREENIGING. – ‘n Maatskappy van Henriëtte Marx, voormalige aanbieder van die kykNET-reeks ‘Net Koffie’, en haar man, die sakeman Andries ‘Dries’ Marx, is voorlopig gelikwideer.

Die maatskappy DHM Traders, waarvan die Marx-egpaar direkteure is, is voorlopig in die Johannesburgse hooggeregshof gelikwideer.

Hanno van Dyk, die sakeman, het verlede jaar ‘n likwidasie aansoek gebring om DHM Traders en drie ander maatskappye van die Marx-egpaar – insluitend Coffee Excellence – te laat likwideer nadat pogings om meer as R6 miljoen se skuld te verhaal misluk het.

Die voorlopige likwidasie is toegestaan en die Marx-egpaar het nou tot 25 Oktober om te reageer voor die likwidasie finaal gemaak word.

Henriëtte Marx wat bekendheid verwerf het as aanbieder van die reeks ‘Net Koffie’. Foto: Facebook/Coffee Excellence

Die Marx-egpaar en ‘n mede-beskuldigde, Paul McIntyre verskyn weer op 16 September in die hof vir kommersiële misdrywe in Pretoria op 32 aanklagte van diefstal, 120 aanklagte van bedrog en drie aanklagte van geldwassery.

Die klaer in die saak is Yellow Star Manufacturing onder die direkteurskap van Hanno van Dyk.

Volgens die klagtstaat was Dries Marx die besturende direkteur van die maatskappy met 20% aandeelhouerskap vanaf 2018 tot en met 2022 toe hy afgedank is.

Gedurende hierdie tydperk was hy verantwoordelik vir die daaglikse bestuur van die fabriek in Telfordstraat in Duncanville.

Paul McIntyre is in April 2019 deur Dries as kliënteskakelbeampte aangestel.

Paul McIntyre is ‘n medebeskuldigde in die saak.

In die klagstaat word daar aangevoer dat geld reguit uit Yellow Star Manufacturing se bankrekening in bankrekeninge van die beskuldigdes se maatskappye DHM Traders, Tabgha Holdings, Arabica Productions en Coffee Excellence oorbetaal is.

McIntyre het volgens die klagstaat ook betalings ontvang.

Die totale bedrag ter sprake is glo R32 miljoen.

Al drie die beskuldigdes is verlede jaar op borgtog van R20 000 elk vrygelaat op die voorwaarde dat hulle toekomstige hofverskynings bywoon, hulle paspoorte oorhandig en nie vir reisdokumente mag aansoek doen vir die duur van die verhoor nie.

Die beskuldigdes mag ook nie kontak met getuies in die saak hê nie.

Die verhoor sal in alle waarskynlikheid eers in 2025 plaasvind.

Henriëtte was vroeër aanbieder van die kykNET-program ‘Net Koffie’. Die derde en laaste seison is in 2022 uitgesaai.

Henriëtte Marx.

 

Exit mobile version