News

Freddie se sending na Moskou

Hy het 'n rugsak met 23kg boeke saam met hom na Rusland geneem.

MIDVAAL – Hoewel die Russe gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902) ondersteuning aan die Boere verleen het, het die koue oorlog – wat tussen 1947 – 1991 geduur het – die twee nasies oor bykans vyf dekades van mekaar vervreem.

Vir Freddie Peters, ‘n plaaslike kultuur en geskiedenisgeesdriftige en voormalige Speaker van die Midvaal-stadsraad, is dit belangrik om hierdie eens hegte bande te herstel en internasionale brûe, wat mettertyd stelselmatig afgebreek is, weer te herbou – veral in ‘n tyd wat Suid-Afrika en Rusland op grond van hul lidmaatskap aan die BRICSvenootskap deesdae handelsvennote is.

Dit is met dié doel dat Freddie en sy vrou, Lysette, tussen 10 en 24 Julie na Rusland gereis het met 23kg boeke wat hulle aan biblioteke en verskeie instansies in Moskou en St. Petersburg geskenk het.

Freddie Peters en sy vrou, Lysette, terug by hul huis in die Schoongezichtkleinhoewes in Midvaal, met die Matrjosjka-poppies wat hulle as ‘n aandenking van Rusland af teruggebring het. Agter is ‘n boek wat Freddie aan die Russe geskenk het en ‘n ander boek wat die Russe aan hom geskenk het. Foto: Christiaan Cloete

Freddie, wat afstam van ‘n krygsgevangene in die Anglo-Boereoorlog, sê die geskiedenis is vol voorbeelde van hoe die Russe die Boere destyds tydens een van die bloedigste oorloeë nog op die vasteland bygestaan het.

Daar is byvoorbeeld die verhaal van die vyf boere-krygsgevangenes wat op pad na die hawe van die eiland Ceylon van ‘n Britse boot gespring het en toe deur die Russiese kaptein, Vladimir Petrov Kissimov, gered is.

Kissimov het hulle opgepik en aanboord sy skip, die Ghreson, geneem.

Dan is daar die 70 000 handtekeninge wat in Rusland gewerf is teen die oorlog wat Brittanje in Suid-Afrika gevoer het.

Verhale oor die hartlike verhouding tussen die Russe en die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog word vervat in boeke deur plaaslike skrywers, soos Persoonlike vriendskappe: Boere en Russe deur Nico Moolman en Wessel Oosthuizen (toevallig ‘n ou Hoër Volkskool Heidelberg skoolmaat van Peters) en Die Vyf Swemmers: ‘n Ware ontsnappingsverhaal deur C.J. Barnard.

Dit is juis boeke soos die bogenoemde wat Freddie aan instansies en biblioteke in Rusland geskenk het.

Freddie Peters skenk ‘n boek aan ‘n biblioteek in St. Petersburg waar ontsnapte boere as krygsgevangenes tydens die Anglo-Boereoorlog gehuisves is. Die boek, wat die storie vertel van vyf swemmers wat deur die Russe opgepik is nadat hulle op pad na die hawe van Ceylon van ‘n Britse skip af gespring het, is getiteld Die Vyf Swemmers en is deur C.J. Barnard geskryf.

Dit sluit in die Moskouse Staatsuniversiteit, die biblioteek in St. Petersburg waar die ontsnapte krygsgevangenes gehuisves is en die biblioteek in die Ou Nederlands Hervormde Kerkgebou in St. Petersburg.

Freddie en Lysette het gedurende hul reis ook tyd ingeruim om die stede van Moskou en St. Petersburg te verken en het onder meer die Rooiplein, Kremlin, Moskou se bekende Bolshoi-teater en die St. Petersburg Museum vir Musiek besoek.

Freddie en Lysette Peters het tydens hul reis die baletopvoering van Romeo en Juliet by die Bolshoi-teater in Moskou gaan kyk.

Dit was nie Freddie se eerste besoek aan Rusland nie.

In 2019 was hy in sy hoedanigheid as Speaker van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit saam met ‘n SuidAfrikaanse afvaardiging na St. Petersburg as deel van Suid-Afrika se BRICS-vennootskap met Rusland.

Die land en sy mense het so ‘n groot indruk op hom gemaak dat hy vanjaar saam met sy vrou terug is om die land verder te verken en bande te versterk. Buiten sanksies wat reisreëlings bemoeilik het, vertel Freddie skertsend van die metaalverklikkers wat orals by doeane vir groot konsternasie gesorg het.

“Ek het ‘n paar jaar gelede twee heupvervangingsoperasies gehad en loop gevolglik rond met heupe van vlerkvrye staal. Orals waar ek deur doeane gegaan het, het daar metaalverklikkers afgegaan, dan is hande in die lug gegooi en ek is eers deeglik deursoek om te verseker dat ek nie wapens by my het nie,” vertel Freddie.

Freddie en Lysette meen Rusland is ‘n baie interessante plek om te besoek, en beplan al klaar aan hul volgende reis.

Freddie Peters en sy vrou, Lysette, skenk ‘n eksemplaar van die boek “Boere en Britte” aan Olga Wladimirovka van die biblioteek in die gebou wat eers die die Nederlands Hervormde Kerkgevou in St Petersburg gehuisves het.

Back to top button