‘Mag alle enkelouers so ‘n kind hê!’

"Dit het nooit by my opgekom dat my seun ook ‘n vader verloor het nie," sê dié ma.

 

Baie ma’s EN pa’s wat hul huweliksmaats weens die dood of ‘n egskeiding verloor het, het die afgelope weke kommentaar gelewer oor die uitdagings om hul tienerkinders alleen groot te maak. Dié debat het ontstaan nadat een so ‘n enkelmoeder op Facebook vertel het hoe moeilik dit is om haar tienerseun in die regte rigting te stuur omdat hy baie hardloppig en rebels is.

Daar is egter ook ma’s en pa’s wat gesê het dat hulle baie geseënd is of was, met kinders wat hulle deur hul donkerste dae bygestaan het en dit steeds doen.

Hermien van de Vyver van Vanderbijlpark is een van hulle. Sy vertel hier meer oor haar ervaring nadat haar man oorlede is:

Ek kan die Here net dankie sê vir die dag wat my seun Chris in ons lewe gekom het. Behalwe dat hy baie gehelp het toe sy pa siek was, was hy my pilaar om aan vas te hou toe sy pa oorlede is.
Dit was in September daardie jaar en hy was in graad 11. Ek besef vandag eers hoeveel druk daar op hom was, want dit was eksamentyd ook nog – in ‘n baie moeklike graad. Gelukkig het hy sy bestuurderslisensie gehad en kon help met alles waarby ek nie uitgekom het nie. Dit het nooit by my opgekom dat hy ook ‘n vader verloor het nie. Ek was te selfsugtig en het gehuil oor my man, en al die tyd was daar ‘n jong seun wat getreur het oor sy pa, en sy ma ook nog moes bystaan.

Alles het verkeerd geloop, goed het gebreek, daar was rotte in die huis se dak, geldprobleme, ‘n alarm wat kort-kort afgegaan het, en nog baie ander goed. Ek het boonop my werk verloor. Verder was ek verskriklik angstig. Vir wat weet ek nie. Chris het elke aand sy matras na my kamer gesleep en daar kom slaap. Ek glo hy het ook baie bekommernisse gehad, soos byvoorbeeld, sal ek vir hom kan sorg, sal ons alleen regkom, gaan hy graad 11 slaag, en nog goed waaraan ek nie nou kan dink nie. Dit was nie reg teenoor hom nie. In hierdie geval was dit eerder ‘n “enkeltiener” wat vir sy ma moes sorg en nie andersom nie.

Vandag is hy ‘n volwasse man en steeds die een wat my belange op sy hart dra. Hy studeer nog, het twee klein kinders en bied ook sport na skool aan. Hy het baie ysters in die vuur. Ek probeer nie meer baie las op hom sit nie, want hy het ‘n gesin om te versorg. Ek kan net hoop dat ander ouers en ook enkelouers ook so gelukkig sal wees met hulle laatlammetjies. Hy is ‘n spogkind en ek is so trots op hom. Bygesê, ek is baie lief vir al my kinders, maar omstandighede en slegte gesondheid maak dit vir hulle moelik om na my om te sien.

 

Exit mobile version