News

Van treurende pa na skopbokskampioen

Skopboks het hom gehelp om weer sy voete te vind ná al die hartseer.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (16 – 22 Augustus) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

MEYERTON – Suid-Afrika se nuwe Waco Pro-Am K1-skopbokskampioen was ‘n paar jaar gelede op ‘n baie donker plek gewees nadat sy sewe weke oue dogtertjie deur pitbulls doodgebyt is.

Skopboks het hom egter gehelp om die trauma en verskriklike hartseer te verwerk en weer sy pad in die lewe te vind.

Riekert Harmse (27) en sy vrou Zaan-Mari (25) ‘n paar jaar gelede met hul dogtertjie Zané-Mari wat deur hul pitbulls doodgebyt is.

Riekert Harmse (27) is op 27 Julie by die Barnyard-teater in Menlyn Parkwinkelsentrum as die weltergewig Waco Pro-Am K1-skopbokskampioen gekroon- ‘n titel wat al in die verlede deur groot name soos Dricus ‘Stillnox’ du Plessis gedra is – nadat hy sy opponent na twee rondtes met ‘n tegniese uitklophou getroef het.

Hy het gedurende die geveg ‘n indrukwekkende 37 liggaamshoue in slegs drie minute op sy opponent laat neerreën.

Die pad tot hierdie oorwinning was egter nie maklik nie. Riekert moes in die aanloop tot hierdie oorwinning baie oorkom.

Riekert Harmse (27) met die Waco Super-AM (K1 styl) belt. Foto: Christiaan Cloete

Riekert se eerste dogtertjie, Zané-Mari, is in Oktober 2020 op die ouderdom van sewe weke tragies oorlede toe sy deur twee pitbulls aangeval is by hul huis.

Die voorval het ‘n diep letsel gelaat en gevolglik het Riekert begin om gevegte te verloor.

Hy het vir Sensei David Kies van Meyerton Fighting Systems gesê dat hy ‘n breek van skopboks wil vat aangesien hy nie in die regte plek was nie.

“Ek was op ‘n baie donker plek. Dit was ‘n baie rowwe tyd. Ek was down and out,” vertel Riekert oor die moeilike tyd.

Riekert is vir twee jaar Amerika toe om homself uit te sorteer. Gedurende hierdie tydperk het hy draad gespan en installasies van pype gedoen.

Klein Zané-Mari wat op die ouderdom van sewe weke deur pitbulls doodgebyt is.

Toe ek terugkom van Amerika af het ek bykans 115 kg geweeg. Ek is na Sensei Kies toe en het toe vir hom gesê ek is nou terug en gereed,” vertel Riekert.

Danksy ‘n klipharde oefenprogram kon Riekert ongeveer 30kg in drie maande se tyd afskud.

Deur skopboks het hy ‘n manier gevind om met dit wat gebeur het te ‘cope.’

Sy vrou het intussen ook ‘n pragtige baba dogtertjie, Zinique, gekry.

Riekert Harmse (27), met sy vrou, Zaan-Mari (25) en hul tweejarige dogtertjie, Zinique. Foto: Christiaan Cloete

My skopboks-klub was daar vir my. My krieketmense was daar vir my,” vertel Riekert van die ondersteuning wat hy ontvang het.

Riekert is ook dankbaar vir die ondersteuning van Sensei David Kies, wat hy as “een van my grootste rolmodelle” beskryf.

Riekert meen skopboks het hom ‘n ander mens gemaak.

Ek was voorheen baie jump to the gun, maar deesdae is ek meer controlled en ek sien dinge uit heeltemal ‘n ander perspektief uit. Ek kan myself in ander mense se skoene sit en hulle punt verstaan. Dit het my kalm gemaak. Dit is my lewe,” vertel Riekert.

Sy volgende doelwit is om die African Opens te wen en Riekert oefen tans hard vir hierdie byeenkoms wat op 16 Desember plaasvind.

Hy droom ook daarvan om aan die Wacowêreldkampioenskap deel te neem.

Riekert sê hy veg vir sy kinders om hulle te wys dat mens tot enige iets in staat is.

Riekert Harmse saam met Sensei David Kies van Meyerton Fighting Systems. Foto: Christiaan Cloete

 

Back to top button