Local newsNews

Ek sê maar net… Wanneer ‘n 8-jarige ‘n joernalis leer

RUBRIEK. - Die laaste week van die skoolvakansie het ek by Klein Paradys Naskoolsentrum gedraai en Ilanka Bam (8) ontmoet. Dit was 'n ervaring.

RUBRIEK. – Dis nog skoolvakansie. Ek is op ‘n missie om naskoolsentrums te besoek vir die weeklikse, Ons Weet wat ons weet.

Die week het ek by Klein Paradys Naskool gaan draai. Ilanka Bam (8) kom laaste ingewals.

Sy is by uitstek ‘n ekstrovert en ‘n bondel energie. Vakansies hou sy van slaap, met haar poppe speel en net te chill.

Al wat vir haar lekker is in die skool is om te teken en pouses met haar maats te speel.

“Net die nerds hou van klas,” verklaar sy.

“Wat is ‘n nerd?” Sy rol haar oë dramaties vir die joernalis se onkunde.

“Dis kinders wat daarvan hou om huiswerk te doen. Hulle lees en leer net heeldag.”

Ilanka voel duidelik jammer vir hulle en gegrief omdat mense enigsins van huiswerk kan hou.

“Hou jy dan nie van lees nie?” waag ek ‘n volgende vraag.

“Natuurlik, maar ek lees ‘Die kind wat drake kweek’, en sy verduidelik summier vir my die hele boek.

“Kan ek maar ‘n foto van jou neem? Waar wil jy staan? Hier voor die grys muur of daar anderkant voor die prentjie muur?”

Sy vlieg dadelik op en haas haar na die muur met die helder kleure. “Nie die emo-muur nie. Ek is nie emo nie!”

Om haar te kry om stil te staan vir die foto vat ‘n tydjie. “Ek dink jy sal goed vaar as jy drama en dans neem,” seg ek.

“Ek doen drama. By die skool. Dan moet ek resitasies en goed opsê. Nie altyd vrywillig nie”.

Ek neem die foto, kyk daarna en begin ag. “Nee man, jy moet mooi glimlag.” Sy gaan staan weer, en ek kry darem ‘n foto geneem.

“Miskien is ek ‘n leeu en ek moet roaarrr,” beduie sy met haar hande soos wafferse katkloue in die lug.

Sy mik na buite, vlieg dan om, om haar plastiese kameelperdjie met ‘n plastiese kamera om sy nek te kry.

“Was jy nou ‘n kameelperd, het jy nes myne gelyk,” beduie sy vrolik, voor sy na buite verdwyn.

Vrolik, geesdriftig en skerp, Ilanka gaan dit nog ver maak in die lewe.

Back to top button