News

Vryheidsfront Plus laat doen leuenverklikkertoetse op lede, personeel

Dit kom nadat ‘n verslag onlangs uitgelek is wat die party skynbaar in die verleentheid stel.

Die Vryheidsfront Plus het Maandag 8 Julie lede van sy Uitvoerende Dagbestuur (UDB), ‘n ondersoekpersoneel, sowel as administratiewe personeel aan leuenverklikkertoetse onderwerp.

Dit volg nadat ‘n vertroulike verslag uitgelek is. Vaalweekblad het die uitgelekte verslag, wat as “streng vertroulik” geklassifiseer is onder oë gehad.

Die verslag dui onder meer op “onmin, groepering, wanadministrasie en probleme” binne die party, en handel oor die reorganisasie van die party – ‘n stap wat deur sommiges in die party “gebruik word om sekere partylede uit te skakel”.

Die Vryheidsfront het voorheen hierdie gerugte besweer en gesê dit is feitlik inkorrek dat interne probleme, onmin, die vorming van groeperinge en ander probleme binne die Vryheidsfront Plus die party genoop het om te reorganiseer.

Volgens die party moes die party na afloop van die verkiesing herstruktureer as gevolg van minder setels, maar ook weens die wysiging aan die formule waarvolgens party politieke fondse aan partye verdeel word.

Wouter Wessels, die Vryheidsfront Plus se nasionale woordvoerder, het die leunverklikkertoetse aan Vaalweekblad bevestig.

“Al die lede van die UDB, die ondersoekpaneel en betrokke administratiewe personeel is vanoggend onderwerp aan leuenverklikkertoetse.”

“Dit gaan oor ‘n vertroulike verslag wat onregmatig gelek is.”

“Die verslag word deur die strukture van die party hanteer. Die verslag bevat aanbevelings wat hanteer en oorweeg word,” sê Wessels.

Kobus Hoffman, ‘n voormalige lid van die provinsiale wetgewer wat deur die Vryheidsfront Plus geskors is, sê in ‘n video op sosiale media: “Wat vir my verbasend is, maar waardeur ek nie verras is nie, is dat die UDB eerder hul fokus rig op die uitlek van die verslag as die inhoud van die verslag”

“Dit is kommerwekkend, maar dit is maar hoe dinge gebeur as jy goed wil toemaak.”

“Hierdie goed gaan nie toegemaak word nie en hierdie goed gaan nie toegesmeer word nie.”

“Maak nie saak hoeveel leuenverklikkertoetse gedoen moet word nie, die waarheid bly die waarheid en die waarheid moet uit,” het Hoffman in ‘n kort video gesê.

Hoffman meen die intimidasie en viktimiasie in die party gaan oor lede wat hul posisies probeer beskerm.

Volgens Hoffman wys die verslag magsmisbruike van senior leiers in die Vryheidsfront Plus uit en hulle leuenagtige optrede voor die UDB.

Dieselfde leiers het volgens hom aan die reorganisasie van die party deelgeneem, selfs nadat die reorganisasie ongeldig verklaar is, en daar duidelik ‘n konflik van belange was.

You can read the full story on our App. Download it here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button