Weermagveterane maak kinders touwys oor boelies

Die inligtingsessie is daarop gemik om die verskillende vorme van afknouery te identifiseer en kinders te leer hoe om boeliegedrag te hanteer.

MEYERTON. – Afknouery en boeliegedrag is ’n wêreldwye probleem wat miljoene kinders affekteer en kan ‘n diepgaande en langdurige uitwerking op die slagoffers hê.

Buiten fisiese beserings wat met afknouery gepaard gaan, kan dit ook langtermyn emosionele en sielkundige letsels op slagoffers laat.

Dit kan byvoorbeeld tot verswakte akademiese prestasie of ‘n verswakte selfbeeld lei.

Om kinders te bemagtig om hulself teen afknouery en boeliegedrag te beskerm, het twee lede van die SuidAfrikaanse Weermagvereniging (SAWV) Woensdag, 19 Junie kinders by die Nederduitsch Hervormde Kerk, MeyertonSuid toegespreek.

Willem Pretorius gesels met kinders oor boeliegedrag en afknouery tydens die inligtingsessie. Foto: Christiaan Cloete

Willem Pretorius is die ondervoorsitter van die SAWV se Suikerbos-eenheid in Heidelberg, en Hannes Louw, die hoof van SAWV se Projek Dwergvalk.

Kinders is tydens dié inligtingsessie meer geleer oor die verskillende soort boelies en hoe om hulle te hanteer.

Volgens Pretorius kan afknouery verskillende vorme aanneem, soos kuberafknouery (deur die internet of sosiale media soos Facebook en WhatsApp), sosiale afknouery (skinder, die verspreiding van valse gerugte, die uitsluiting van mense, die verbreking van vriendskappe, die verspreiding van leuens, jaloesie en beskuldigings), nie-verbale en verbale afknouery, fisiese afknouery en seksuele afknouery.

Willem Pretorius en Hannes Louw van die SAWV, saam met kinders by die inligtingsessie. Foto: Christiaan Cloete

Die laaste twee vorme van afknouery is van die mees ernstigste vorme.

Hoewel dit nodig is om vreedsame oplossings vir boeliegedrag en afknouery te probeer vind, mag dit in sommige uitsonderlike gevalle vir slagoffers nodig wees om selfverdedigingstegnieke in te span om hulself teen boelies te beskerm.

Die SAWV-lede het die kinders gewys hoe om hulself teen aanvallers te verdedig, maar gewaarsku dat hierdie tegnieke nooit vir vergelding gebruik mag word nie.

Willem Pretorius wys ‘n kind hoe om haarself teen fisieke afknouery te beskerm, indien nodig. Foto: Christiaan Cloete
Selfverdedigingstegnieke word aangeleer. Foto: Christiaan Cloete

Daar was ook spanbouaktiwiteite wat daarop gemik is om spanwerk en samewerking te bevorder.

Volgens Willem is baie van die kinders wat die inligtingsessie bygewoon het self deur boeliegedrag en afknouery geaffekteer.

Volgens hom vorm die inligtingsessie deel van die SAWV se Projek Dwergvalk, wat op bemagting van die jeug gemik is.

Die SAWV help deur middel van Projek Dwergvalk skole en jeugorganisasies om belangstellende kinders meer te leer oor geestesgesondheid, geestelike onderwys, oorlewing, leierskap, veldkennis en vele meer.

Die SAWV doen dit kosteloos as deel van hul diens aan die gemeenskap.

Kinders neem deel aan ‘n aktiwiteit wat daarop gemik is om spanwerk te bevorder. Foto: Christiaan Cloete
Die aktiwiteit is daarop gemik om spanwerk te bevorder. Foto: Christiaan Cloete
Exit mobile version