Twee week lange kragonderbreking lê ondernemings lam

Inwoners wil al die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit hof toe sleep vir verlies aan inkomste.

VEREENIGING. – Fabrieke en ondernemings in die Nuffieldstraat in Duncanville se industriële gebied is glo al vir langer as twee weke sonder elektrisiteit.

Volgens Fanie du Bruyn, die eienaar van ‘n ingeneursonderneming in Duncanville, ly klein besighede onder die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se skynbare onvermoë om die probleem aan te spreek.

Volgens Fanie het hulle al almal van die elektrisiteitsafdeling, die plaaslike raadslid, die burgemeester en talle burgemeesterskomiteelede gekontak, maar in twee weke se tyd kon niemand nog die probleem uitsorteer nie.

De Bruyn sê intussen staan hulle werk stil.

Ons klein besighede kry swaar. Ons draaibanke staan stil en daar is geen inkomste nie,” vertel hy.

Herstelwerk duur na twee weke steeds voort. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Frances Louw van ‘n ander onderneming wat skadunette vervaardig, het die krag al op 14 Junie, kort voor die langnaweek afgegaan.

Dit is glo die volgende dag – 15 Junie – gerapporteer.

Volgens Louw het die munisipaliteit na vele klagtes aan eienaars van plaaslike ondernemings verduidelik dat daar eenvoudig nie geld in die munisipaliteit se begroting is om die kabel te vevang nie.

Gevolglik moet foute op die kabel gesoek word en reggemaak word in plaas van om die kabel te vervang.

Dit is glo waarom herstelwerk so lank neem.

Volgens Louw het inwoners gedreig om die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit te dagvaar vir die verlies aan inkomste.

‘n Voertuig van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se elektriese afdeling op die toneel. Foto: Christiaan Cloete

Volgens ‘n betroubare bron is sommige van die kabels in 1959 aangelê.

Makhosonke Sangweni, ‘n woordvoerder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het by navraag aan Vaalweekblad gesê die oorsaak van die kragonderbreking is aan inwoners gekommunikeer.

Ons verstaan die probleme is weens langdurige onderbrekings van die elektrisiteitstoevoer. Die munisipaliteit het intussen die hoofoorsaak uitgesorteer.”

Tydens Vaalweekblad se besoek Maandag 1 Julie was kontrakteurs en werknemers van die munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling steeds op die toneel om foute te soek.

Blykbaar is daar reeds vordering gemaak, maar in ander gedeeltes is ondernemings steeds sonder krag.

Die munisipaliteit het glo dié nuwe transformator laat installeer nadat daar gedreig is dat inwoners vir verlies aan inkomste gaan dagvaar. Foto: Christiaan Cloete
Exit mobile version