Saak sloer nadat broers, ma se geld glo opraak

Daar is blykbaar nie meer geld om vir hul regskostes te betaal nie.

*Dié storie het eerste in die gedrukte uitgawe van Vaalweekblad verskyn. Koop ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

VEREENIGING.- Die vonnisoplegging van die Metz-broers van Leeuhof en hul ma, Lindi Falch (44) is verlede week in die rondgaande hooggeregshof in Benoni uitgestel nadat hul geld blykbaar opgeraak het.

Falch en haar seuns, Raymond Metz (21), Shane Metz (24) en Simon Anton “Babatjie” Metz (18), sou gevonnis word vir hul aandeel in die moord op Benjamin Lotz (52), nadat hulle in April aan die moord skuldig bevind is.

n Probleem met befondsing het die saak nou tot stilstand geruk.

Raymond Metz (21), Shane Metz (24) en Simon Anton “Babatjie” Metz (18) in die beskuldigdebank. Foto: Christiaan Cloete

Charles de Beer, die broers en hul ma se regsverteenwoordiger, het Maandag, 24 Junie toe daar ter strafversagting getuig sou word, regter Carla van Veenendal meegdeel dat Jannie van Staden, Falch se verloofde, wat tot dusver Falch en haar seuns se regskostes bygebring het, nie meer kan bekostig om vir die hofsaak te betaal nie.

Die saak is in April uitgestel vir die veroordeeldes om ‘n privaat maatskaplike werker, en indien nodig ‘n sielkundige, aan te stel om hulle te evalueer en ‘n forensiese verslag saam te stel.

Falch se saamleefmaat, wat tot dusver al die regskostes bygebring het, kan nie meer betaal nie

Die verslag word deur die hof gebruik in besluitneming oor ‘n gepaste vonnis.

De Beer het die hof meegedeel dat Falch se saamleefmaat, wat sedert die aanvang van die saak tot in met nou die enigste broodwinner in die familie is, nie meer kan voortgaan om die regskostes te betaal nie en dat die veroordeldes dus nog nie ‘n maatskaplike werker aangestel het nie.

Dit moet eers gedoen word voor die vonnisprosedures kan voortgaan.

Lindi Falch  in die hof. Foto: Christiaan Cloete

Hy (Jannie van Staden) het sy eie besigheid en het tot nou toe al die regskostes en finansiële uitgawes namens die familie gedra.

Ongelukkig is sy onderneming op die afdraandepad en kan hy nie ‘n maatskaplike werker bekostig nie. Hy kon ook nie daarin slaag om die geld daarvoor in te vorder nie,” het De Beer die hof meegedeel.

Ons het tot die laaste oomblik gewag om te sien wat ons kan doen om die hof met voldoende inligting (vir die vonnisprosedure) te voorsien. Ongeveer twee tot drie weke gelede het ons uiteindelik die besluit geneem dat die situasie van so ‘n aard is dat die familie nie in staat sal wees om geld by te dra om privaat persone aan te stel nie,” het De Beer verduidelik.

Die Metz-broers se regsverteenwoordiger, Charles de Beer (links). Foto: Christiaan Cloete

Volgens De Beer het hulle toe die staat genader.

Die staat het toe maatskaplike werkers aan elkeen van die veroordeeldes toegeken.

Ons voorsien in hierdie stadium ‘n klein probleem omdat die maatskaplike werkers wat die staat toegeken het, almal Engelssprekend is,” het De Beer aan Van Veenendal gesê.

Die Metz-broers en hul ma is almal Afrikaanssprekend.

Weens die aard van die saak waarmee ons hier te doen het, insluitend die persoonlike omstandighede van elkeen van die aangeklaagdes mag dit dalk die moeite werd wees om te sien tot watter mate dié mense vertroud is met Afrikaans,” het De Beer gesê.

Die saak is uitgestel tot 2 en 3 September vir bewyse en argumente ter strafversagting. Vonnisoplegging sal na verwagting 6 September wees.

Die Metz-broers en hul ma, Lindi Falch, in die hof. Foto: Christiaan Cloete
Exit mobile version