Vryheidsfront Plus se Midvaal-kiesafdelingskantoor sluit

Talle mense het hul werke verloor.

OPDATERING 2024/06/29 – 18:08:

Wouter Wessels, die Vryheidsfront Plus se nasionale woordvoerder, het intussen op Vaalweekbklad se berig gereageer.

Hy sê dit is feitlik inkorrek dat interne probleme, onmin, die vorming van groeperinge en ander probleme binne die Vryheidsfront Plus die party genoop het om te reorganiseer.

“Na afloop van die verkiesing moet die party herstruktureer. Ons het fondse verloor as gevolg van minder setels, maar ook weens die wysiging aan die formule waarvolgens party politieke fondse aan partye verdeel word.”

“Ons het vier kantore in Gauteng gesluit en die funksies van hierdie kantore saam met ander groepeer volgens ons operasionele behoeftes en herevaluering na afloop van die verkiesing.”

“Midvaal is een van die hierdien kantore. Dit het niks met onmin of interne probleme te doen nie,” sê Wessels.

Volgens Wessels is alle personeel van die party in 2019 op vastetermynkontrakte ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge  aangestel.

Daardie kontrake het tot ‘n einde gekom. Daar is personeel wat nie nuwe kontrakaanbiedinge ontvang het nie.

“Dit het niks met onmin of Kobus Hoffman te doen nie,” het Wessels benadruk.

——————————————————————————————————————————————————

MEYERTON. – Die Vryheidsfront Plus se Midvaal-kiesafdelingskantoor is Vrydag 28 Junie amptelik gesluit en personeel het hul werke verloor.

Vaalweekblad verstaan dit volg nadat interne probleme, onmin, die vorming van groeperinge en ander probleme binne die Vryheidsfront Plus in Gauteng die party se dagbestuur genoop om ‘n “reorganisasie” van stapel te stuur.

Die reorganisasie is blykbaar daarop gemik om interne probleme binne die party op te los.

Navrae wat gister per WhatsApp aan Jaco Mulder, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus in Gauteng gestuur is, is nog nie beantwoord nie.

*Hierdie is ‘n ontwikkelende storie. Vaalweekblad sal later meer breedvoerig berig wanneer ons meer inligting het.

Exit mobile version