NewsSport

Fietswedren teen tyd

Die derde aflewering van Albion Wheelers-fietsryklub se 2024-tydtoetsreeks het verlede Saterdag vuurwerke opgelewer.

DALESIDE. – Die individuele tydtoets staan allerweë in fietsry as die “Wedren van Waarheid” bekend; want hier is dit net die individuele fietsryer, sonder spanmaats, in ‘n wedren teen die klok gewikkel.

Die speke het behoorlik gesing toe 53 fietsryers Saterdag, 8 Junie aan die derde byeenkoms van Albion Wheelersfietsryklub se tydtoetsreeks by Café du Cirque deelgeneem het.

Ruan Swanepoel kom soos ‘n blits met die pylvak afgejaag op sy koolstofveselperd. Ruan het ‘n algehele vyfde plek in die tydtoets behaal. Foto: Christiaan Cloete

Die 2024 Gauteng-tydtoetskampioen, Brandon Downes van die TEGfietsryspan, het gewys waarom hy as een van die provinsie se beste fietsryers gereken word, toe hy die afstand van 13.4 km in ‘n tyd van 18 minute en 36 sekondes afgelê het.

Cullen Posthumus van Bike Craft Performance (+00:09:08) het ‘n tweede plek behaal en Ruan Smit van Fullgaz (00:15:60) was algeheel derde.

Die 2024 Gauteng-tydtoetskampioen, Brandon Downes, was die vinnigste in die tydtoets. Hy het die 13.4km in ‘n tyd van 18 minute en 36 sekondes afgelê. Foto: Christiaan Cloete

Die stadigste deelnemer het die afstand in 38 minute en 15 sekondes afgelê en het sowat 19 minute en 38 sekondes ná die formidabele Downs klaargemaak.

Die tydtoetsreeks, wat uit vyf individuele tydtoetse en een span tydtoets bestaan, is groot pret vir jonk en oud, of jy nou ‘n ervare professionele wielrenner is of sommer net vir bietjie oefening ry.

SA-kampioen Willie Bauscher, ‘n veteraan-fietsryer (60+), sit skouer aan die wiel tydens die individuele tydtoets. Willie, wat die tydtoets in 21 m inute en 57 sekondes afgelê het, het in sy ouderdomskategorie gewen. Foto: Christiaan Cloete

Die volgende byeenkoms vind 22 Junie by Café du Cirque in Daleside plaas, waartydens fietsryers ‘n roete van 25.3 km na Drumblade se rigting en terug na Café du Cirque sal aanpak.

Die tye van die byeenkomste is na 10:00 verskuif om meer fietsryers te akkommodeer.

Die wedrenne word tot 120 inskrywings beperk. Die inskryffooi is R60.

As mens so vinnig kyk, sal jy vergeef word as jy vir Eckhart Naudé met Tadej Pogačar homself verwar, veral as hy so vinnig verby jou gejaag kom. Foto: Christiaan Cloete
Brett Harisson trap sy fiets dat hy weet hy is getrap. Foto: Christiaan Cloete

 

Check Also
Close
Back to top button