News

50 jaar as verpleegster

Sr. Dirkie van Rensburg, een van die Vaaldriehoek se mees ervare verpleegsters, sê dat hoewel die verpleegbedryf die afgelope halfdekade baie verander het, verpleegsters se toewyding om vir ander te sorg nog, net so sterk soos altyd sal bly.

VEREENIGING. – “Oor die jare het ek die voorreg gehad om duisende pasiënte te versorg. Ek het oomblikke van geluk saam met hulle gedeel en het hulle bygestaan in tye van nood.”

Sr. Dirkie van Rensburg het vanjaar op Internasionale Verpleegstersdag 50 jaar in die bedryf gevier.

Dié dag – wat in 1974 deur die Internasionale Raad van Verpleegsters ingestel is, word jaarliks op 12 Mei (Florence Nightingale se verjaardag) herdenk.

Sr. Dirkie van Rensburg word deur verpleegpersoneel, dokters en verpleegsters geluk gewens met die mylpaal. Foto: Christiaan Cloete

Sr. Dirkie het haar loopbaan in verpleging begin toe sy in 1974 by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein as ‘n verpleegassistent begin werk het.

Die volgende jaar het sy as studenteverpleegster by die Klerksdorp Hospitaal se psigiatrieafdeling begin werk terwyl sy aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) studeer het.

Sy het later haar praktiese opleiding aan die Sterkfontein Psigiatriese Hospitaal in Krugersdorp en die Witrand Psigiatriese Hospitaal in Potchefstroom voltooi.

‘n Veel jonger Sr. Dirkie van Rensburg. Vandag is sy een van die mees ervare verpleegsters in die Vaaldriehoek. Foto: Verskaf

Nadat sy haar diploma verwerf het, het sy vir ‘n jaar in die Klerksdorp Hospitaal se intensiewe sorgeenheid gewerk.

In 1980 het sy in gemeenskapsgesondheid gewerk en in 1981 het sy in Vanderbijlpark begin werk.

Daar het sy haar vrou, Magdanette, in November 1982 ontmoet toe sy by Vanderbijlpark Hospitaal as administratiewe klerk gewerk het.

Die tweetjies het uiteindelik in 2007 in ‘n burgerlike huwelik getree.

Sr. Dirkie en die liefde van haar lewe, Magdanette vier Dirkie se besonderse mylpaal. Foto: Christiaan Cloete

In 1997 het sr. Dirkie by Mediclinic Vereeniging se intensiewe sorgeenheid begin werk.

Sr. Dirkie het ook in 2002 ‘n draai in Saudi-Arabië gemaak toe sy by die King Farhad Nasionale Algemene Hospitaal in Jeddah se intensiewe sorgeenheid en ongevalle eenheid gewerk het.

Sy werk sedert sy aan die einde van 2005 – nadat sy na Suid-Afrika teruggekeer het – by die Midvaal Privaat Hospitaal.

Sy meen sy sou nooit hierdie mylpaal kon bereik sonder die ondersteuning van haar kollegas en haar vrou nie.

Aan my vrou, dankie vir jou geduld en begrip in tye wat werk my weg van die huis af gehou het. Aan al my pasiënte en hul families, dankie dat julle my toevertrou het om na jul geliefdes om te sien. Ek dra julle almal in my hart,” sê sr. Dirkie.

Sr. Dirkie op Internasionale Verpleegstersdag. Foto: Christiaan Cloete

Sy sê sy is vol hoop en opwinding oor die toekoms.

Die verplegingsbedryf hou aan om verder te ontwikkel. Ek is gretig om te sien wat die volgende 50 jaar gaan bring.

Die enigste ding wat ek vir seker weet is dat die gees van verpleging – die toewyding om vir ander te sorg – so sterk soos altyd sal bly. Verpleging is ‘n lewenslange reis van groei, leer en ontwikkeling,” sê sr. Dirkie.

Verpleegpersoneel van die Midvaal Privaat Hospitaal vier Internasionale Verpleegstersdag saam met Sr. Dirkie. Foto: Christiaan Cloete
Verpleegpersoneel van die Midvaal Privaat Hospitaal met kersies ter viering van Internasionale Verpleegstersdag. Foto: Christiaan Cloete

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button