HealthLifestyleLocal newsNews

Nuwe been gee Charmaine nog meer lus vir die lewe!

Lenandi Ebersöhn-Erasmus, wat ‘n Ortotika- en Prostetikapraktyk in Drie Riviere bedryf, het vir Charmaine 'n splinternuwe, gemaklike kunsbeen geskenk!

VANDERBIJLPARK. – Charmaine Burger (25) is ‘n jong vrou met ‘n aansteeklike lag en ‘n lus vir die lewe. Mense wat nie haar geskiedenis ken nie, sal moeilik kan glo dat sy die afgelope twee-en-’n-halwe jaar uiterste ongerief en pyn agter haar mooi glimlag weggesteek het.

Charmaine en haar verloofde, Herman Bronkhorst, was die aand van 3 November 2019 met hul motorfiets op pad huis toe na ‘n kuier by haar ouers in Vereeniging, toe ‘n trok sy vrag op die R59-snelweg tussen Redan en Meyerton verloor het. Die saamgeperste aluminiumblokke het die hele pad vol geval, direk voor hul aankomende motorfiets.

Met impak het die paartjie albei ernstige beserings opgedoen, waarvan Charmaine se vergruisde regtervoet en -been die ergste was. Die mediese span se raad was dat haar voet en ‘n gedeelte van haar been geamputeer moes word, maar sy het gepleit dat hulle haar been moes probeer red. Eksterne skroewe is toe aangebring om haar vergruisde beendere vir maande lank te spalk in die hoop dat dit sou genees, maar die pogings was vergeefs.

Vyftien pynlike maande later moes sy die onvermydelike aanvaar: Haar voet en been is op 11 Februarie 2021 net bokant die kuit geamputeer. Die eerste maande na die amputasie het sy met krukke oor die weg gekom maar later in 2021 kon sy uiteindelik met ‘n prostetiese been begin loop.

“My stompie, of ‘ons monstertjie’ soos my verloofde dit noem, het intussen baie gekrimp en die prostese het nie meer gemaklik gepas nie. Dit het my seergemaak en ek het dit al minder gebruik,” sê sy.

Op 4 Julie vanjaar, ‘n dag voor haar verjaardag, is sy verras deur ‘n oproep van me. Lenandi Ebersöhn-Erasmus, eienaar van Ebersöhn Orthotics and Prosthetics in Drie Riviere, met die nuus dat sy deur 36 van haar familielede en vriende genomineer is vir die praktyk se Mandela Dag-projek. Dit het beteken Charmaine sou ‘n splinternuwe, hoëgehalte en gemaklike kunsbeen heeltemal gratis ontvang!

Die groot dag het op 18 Julie aangebreek: Charmaine se nuwe been pas perfek en sy kan haar lewe weer met meer gemak en beweeglikheid geniet.

“Die nuwe been pas so gemaklik en Lenandi sê ek is welkom om terug te gaan wanneer ek ook al ‘n verstelling wil laat maak. Ek is baie dankbaar dat my mense my genomineer het en dat Lenandi my gekies het vir ‘n prostese. Ek kan almal wat gebruik maak van ‘n prostese of enige ander vorm van ortopediese toestelle aanraai om haar dienste op die proef te stel,” sê Charmaine.

Lenandi het op haar beurt ook net lof vir Charmaine: “Wat vir my uitgestaan het van haar was haar ongelooflike ondersteuningstelsel, en toe ek die eerste keer met haar kontak maak, kon ek hoor dat sy gemotiveerd is om ‘n vol lewe te leef, ongeag haar omstandighede. Ek weet sommer met ‘n kunsmatige been wat lekker pas, sal sy nog baie dinge bereik en baie mense se lewens ten goede aanraak.”

 

 

‘n Dankbare Charmaine nadat sy verlede week haar splinternuwe, gemaklike prostese by me. Lenandi Ebersöhn-Erasmus (regs) se praktyk ontvang het.

 

Charmaine was die afgelope tyd hoofsaaklik op krukke aangewese omdat haar eerste kunsbeen nie meer gemaklik gepas het nie en haar baie seergemaak het.

 

Charmaine Burger en haar verloofde, Herman Bronkhorst, voor hul ongeluk.

 

Met aanleg vir kuns en medies ontdek Lenandi haar ‘absolute passie’

VEREENIGING. – “Ek vind my beroep baie interessant en uniek omdat dit menslike anatomie, kuns en meganika, alles in een, kombineer.”

Só sê Lenandi Ebersöhn-Erasmus, wat ‘n Ortotika- en Prostetikapraktyk in Drie Riviere bedryf, oor haar lewenstaak om mense wat ledemate verloor het, se lewens te verbeter deur hoëgehalte, gemaklike kunsledemate vir hulle te maak, soos die been wat sy op Mandela Dag as geskenk aan Charmaine Burger oorhandig het.

“Ek het nooit geweet in watter rigting ek wou studeer nie. My ma wou hê ek moes Rekeningkunde kies en my pa het meer gedink aan ‘n juwelerigting, maar ek het van die begin af geweet ek wil nie een daarvan doen nie. Aanlegtoetse het toe gewys ek is medies aangelê, maar nie vir dokter nie, en dat ek kunstig is, maar nie ‘n kunstenaar nie. So, as jy medies en kuns saamsit, kry jy óf tandheelkundige, óf mediese ortotika en prostetika. Ek het van die begin af geweet tandheelkunde is nie vir my nie en het toe ‘skaduwerk’ in die ortotika- en prostetikabedryf gaan doen. Ek het vinnig besef hoekom dit die ideale rigting vir my is. Dit het ‘n absolute passie geword vir my.”

Sy sê elke ledemaat wat sy maak, verskil, en die behandelingsplan vir elke persoon is ook verskillend.

“Die prostetis begin eers om ‘n negatiewe afdruk te vat van die persoon se oorblywende ledemaat deur middel van gipsverbande en baie mates. Uit hierdie gipsafdruk word ‘n presiese duplikaat van die oorblywende ledemaat geskep. Die gipsafdruk dien as ‘n templaat vir die maak van die prostese, en die prostetis omskep dit in ‘n positiewe model van jou ledemaat. Hierdie proses is noodsaaklik om ‘n gemaklike prostese te maak. Daarna word ‘n ‘socket’ gemaak om die prostese aan jou oorblywende ledemaat te koppel. Die socket word gemaak van koolstofvesel of veselglas en soms word die toets-socket van plastiek gemaak. Daar is verskillende maniere hoe dit aan die oorblywende ledemaat koppel – meestal deur middel van ‘n silikoonkous wat as ‘n ekstra laag tussen die vel en die socket dien sodat die prostese gemakliker pas. Van daar af word die res van die prostese aan mekaar gekoppel deur verskillende komponente soos byvoorbeeld die kunsmatige voet en kunsmatige knieg. Daar is baie verstellings wat gemaak moet word om die beste moontlike passing te kry en daar is ook opsies om die kunsledemaat meer kosmeties te laat lyk,” verduidelik Lenandi.

Hoewel dit baie toewyding, talent, vaardigheid en geduld vereis, is dit duidelik waarom Lenandi se praktyk reeds ver buite die Vaaldriehoek naam gemaak het. Sy sit haar hart en siel in elke doelgemaakte ontwerp in en rus nie voordat dit aan haar hoë estetiese en praktiese standaarde voldoen nie. Só skep sy inderwaarheid kunswerke wat mense se lewens verander – en elkeen is ‘n meesterstuk!

 

*******************************************************************************************************

Back to top button