VANDERBIJLPARK – ‘n Mens sou kon dink dat die een kleuterskool nes die ander is. Dis glad nie die geval nie. Vat nou maar die Plaasklonkie Kleuterskool.
Hier word daar onder andere ganse en skilpaaie aangehou, en ja, dis die kinders se verantwoordelikheid om hulle te voer. Dan is daar Blessie. Die skool se eie perd wat elke dag ‘n klas se kinders geduldig op haar laat ry.
Een van die skool se medeeienaars, Gina Swanepoel, glo dat kinders soveel as moontlik buite moet wees en dat hulle speel-speel moet leer. Hul 74 leerders is tans in ses klasse volgens ouderdom verdeel.
Elke klas ry nie net perd nie, hulle is ook betrokke by die aanplant en versorging van groentetuine. Dan is daar ook met yoga klasse begin wat die kinders baie geniet. “Eintlik is dit net strekoefeninge wat help met die kinders se balans en asemhaling,” vertel Gina.
Die jaar heers daar groot opgewondenheid omdat vele groot projekte beplan word. Soos gewoonlik sal hul jaarlikse inry rolprent by Droomplaas vertoon word, waar die ouers die boks-karre bou en die kiddies die springmielies eet.
Voor die Paasnaweek het hulle ‘n spesiale poppekas en Paasete gehad van Hot Cross Buns en sap in wynglase. Oupa en Ouma dae is ook elke jaar ‘n hoogtepunt en dan is daar natuurlik die jaarlikse gradeplegtigheid.
Tussen al die spesiale dae en speel, word daar ook aandag geskenk aan die departement van onderwys se amptelike kurrikulum. Belangrikste bly dat die kleuters hier emosioneel geborge voel en nog kind kan wees. “Vyftien jaar gelede was hier niks. Hierdie is ‘n droom wat werklikheid geword het,” glimlag Gina.