Oorstromings: Sowat 300 mense na verwagting geraak deur hoër watervlak

Mense wat hulp wil verleen of skenkings wil maak, word versoek om nie nou self na die oorstroomde gebied te gaan nie. Kontak Vaalweekblad by 083 246 0523 as u by hulpprojekte betrokke wil raak.

 

Saamgestel om 10:00 op Saterdag, 26 April 2025

VAALDRIEHOEK. – Die Vaalrivier in die Barrage-omgewing vloei steeds vinnig en oorstromings van verskeie laagliggende wonings is al gerapporteer. Vaalweekblad het Donderdagaand verneem dat 70 gesinne, insluitend sowat 300 kinders en volwassenes, na vewagting deur die hoër watervlak geraak gaan word.

Vaalweekblad het intussen met mnr. Johann Viljoen, Helpende Hand Vanderbijlpark-tak se voorsitter, gesels. Hy laat weet:

Na informasie is Helpende Hand Vanderbijlpark-tak en verskeie ander rolspelers Donderdagaand, 24 April, uit om die situasie te gaan asseseer by Vaaloewer en Sunset Paradise. Die watervlak was hoog, met sommige huishoudings wat ontruim moes word. Van die inwoners het intussen ook meubels en ander besittings gepak en dit saam met hul voertuie van hul eiendomme af verwyder.

Die situasie het intussen heelwat verander met die Vaalrivier wat baie hoër opgestoot het. Meer mense is al langs die Vaalrivier ontruim. Met die 10de sluis wat nou oopgemaak is, is die realiteit ongelukkig dat die situasie meer uitdagend gaan word. Die invloei is tans ook baie meer as die uitvloei met die 10 sluise oop. Ons wil nie paniek saai nie, maar mense moet voorbereid wees op vloede. Die water gaan beslis verder styg.

Op dié stadium gaan ons vra dat die publiek wat wil help of skenkings wil maak, asseblief nie na die areas toe moet gaan met goedere nie. Daar moet eers ‘n behoeftebepaling gedoen word om te sien wat regtig benodig word. Daar is verskeie rolspelers betrokke saam met wie die bepaling gedoen sal word. Dit sal dan aan die publiek versprei word.

Johann Viljoen
Helpende Hand Vanderbijlpark-tak Voorsitter

Die Vaalrivier loop ontsettend vinnig en sterk in die Barrage-omgewing en na verwagting gaan die watervlak verder styg. Foto: Jonathan Welch.

Mense wat op enige wyse wil help, kan Vaalweekblad per Whatsapp kontak by 083 246 0523. Alle boodskappe sal aan die belanghebbendes deurgegee word en hulle sal dan laat weet op watter manier u betrokke kan raak.

Exit mobile version