Grafte onder Vaaldam weer sigbaar weens lae watervlak – diefstal skok!

Geskiedenisliefhebbers is ontsteld oor die diefstal van ou Vaaldam-grafte se kopstukke

 

DENEYSVILLE. – Het jy geweet dat die eerste Voortrekkers omstreeks 1836 vir ‘n tyd lank kom uitspan het waar die Vaaldam vandag lê? Selfs Louis Trichardt se trek het ‘n ruk lank hier kom vertoef voordat hulle verder getrek het. Deur die opvolgende jare het verskeie Voortrekkergesinne hulle in die gebied waar Deneysville en Oranjeville vandag lê, kom tuismaak.
Vaalweekblad het in die verlede al dikwels berig oor die eerste inwoners se grafte wat in die Vaaldam lê, en wanneer die watervlak baie daal, is daardie grafte weer sigbaar.
Dit is tans weer die geval, met die Vaaldamvlak wat nou onder 25% is (21 Des 2024). Ongelukkig is die kopstukke van sommige grafte in die afgelope dae weggedra…

HIER IS ‘N BIETJIE MEER INLIGTING OOR DIE AGTERGROND VAN DIE GRAFTE, SOOS VERSKAF IN ‘N FACEBOOK-PLASING DEUR DIE RIEMLAND MUSEUM (8 DESEMBER 2024):

“In die dieptes van die Vaaldam, onder die glinsterende water, op die oppervlakte van die eiland, lê ‘n wêreld wat veel meer as net natuurlike skoonheid bevat. Dit is ‘n wêreld waar grafte onder water nie net raar is nie, maar ook as plekke van herinnering en verlies beskou word. Die Riemland Museum komitee tesame met hul vennote van die GGSA asook verteenwoordigers van die Monument Jagters groep het verlede naweek die Universiteit van Johannesburg se eiland op Deneysville besoek. Grafte op die eiland is toe besoek en bestudeer ten einde verdere navorsing te doen oor die oorledenes. Hierdie grafte kan slegs waargeneem word wanneer die Vaaldam op sy laagste vlakke is. Daar is al voorheen fotos deur besoekers geneem en versprei op sosiale media maar daar was nog geen opname gedoen nie.

Die navorsingsspan het besluit om die inligting van elke graf te dokumenteer deur fotos te neem, die besonderhede op die kopstene wat nog leesbaar is, neer te skryf asook om die presiese GPS-ligging te neem. Die oudste grafte wat bevestig kon word was van 1893 voor die ABO. Hierdie besonderhede gaan nou op die GGSA se data basis gevoeg word sodat daar verdere navorsing gedoen kan word. Die publiek kan verdere inligting verkry deur die Riemland Museum direk te besoek of op die Riemland Museum se Facebook blad te gaan loer.

Ons wil graag van die geleentheid gebruik maak om Njabulo Nyawo van die Universiteit Van Johannesburg asook die NSRI van Vaaldam te bedank vir die geleentheid om hierdie merkwaardige plek te kon besoek. Grafte onder water bied ‘n blik op die verhouding tussen lewe, dood en die natuur maar in hierdie geval is daar ‘n ander faktor betrokke naamlik die invloed van die mens. Die mens het hierdie waterbron aangepas en verander om ten einde optimale watervoorsiening vir omliggende areas te verseker. Die grafte herinner ons aan die feit dat die dam nie net ‘n hedendaagse waterbron is nie, maar ook ‘n historiese kant as begrafplaas het. Hierdie plekke herinner ons nie net aan die verlede nie, maar ook aan die noodsaaklikheid om die lewe te vier en die herinneringe te koester.”

DAAR IS EGTER NOU ‘N NUWE VERWIKKELING IN DIE GRAFTE SE VERHAAL. MEV. KOBIE STRöH, ‘N GESKIEDENISLIEFHEBBER VAN DIE VAALDRIEHOEK EN LID VAN DIE GENEALOGIESE GENOOTSKAP VAN SUID-AFRIKA, HET PAS DIE VOLGENDE ONTSTELLENDE NUUS BEKEND GEMAAK:

KOBIE: STRöH:

SKANDE OP SKANDE – WATTER IDIOOT STEEL ‘N OU GESKIEDKUNDIGE GRAFSTEEN?
Vir baie jare rus hierdie grafte onder die waters van die Vaaldam.
Met die huidige droogte raak n klompie grafte sigbaar.
Dit kan net per boot bereik word en is op privaat eiendom. Dit mag nie sonder toestemming besoek word nie.
30 November 2024 word ‘n groepie genealoë met toestemming geneem om foto’s van die grafte te gaan neem en om meer inligting daaroor te gaan versamel.
‘n Paar nasate word opgespoor.
20 Desember 2024 word van die nasate geneem om hulle voorgeslagte se graf te gaan besoek.
GROOT SKOK. ROETS DU PREEZ SE GRAFSTEEN IS GESTEEL.
Hy was 131 jaar rustig in ‘n veilige plek begrawe.
Nou is die steen weg.
Waar grootouma se steen was, is nou net ‘n holte!
Om welke rede sal iemand so ‘n ou grafsteen steel? Dit is nie marmer nie.
AS ENIGE IEMAND ENIGE INLIGTING KAN GEE, KONTAK ONS GERUS by kobiestroh@yahoo.com of Peetschabort@gmail.com
Let wel! Enige persoon wat die grafte gaan besoek, doen dit onwettig.

Die GGSA Vaal, Riemland Museum en Vaaldriehoek Kultuurnetwerk het onlangs saamgespan om die grafte in die Vaaldam met toestemming te besoek. Geskiedenisliefhebber Peet Schabort van Deneysville is tans besig om die inligting op die grafstene te verwerk en in ‘n databasis saam te vat.

 

 

Exit mobile version