VANDERBIJLPARK – Sy laat jou aan ‘n ballerina dink. Klein en fyn. Lyk jare jonger as haar amptelike 24. Kisia Steyn is ‘n farmaseutiese verteenwoordiger van beroep, maar haar passie en hart is by fiksheid en modelwerk.
Dié dat sy die twee gekombineer het. Ses jaar gelede. Dit was eintlik per ongeluk. Een van haar ma se kunsstudente, Quenita Perez het Kisia gevra of sy bereid sal wees om ‘n eksperiment in fiksheid en liggaamsbou te doen.
“Ek het nog altyd van uitdagings gehou en het dadelik ja gesê,” lag Kisia.Wat sommer net ‘n proeflopie was, het egter na haar eerste bikini-kompetisie vir haar ‘n lewenswyse geword.
In 2021 het ‘n verdere afdeling, FitModel kop uitgesteek in Suid-Afrika en net daar het Kisia die ideale afdeling gevind.
“Ek het baie hard gewerk, opofferings gemaak. Selfs deur my studentejare het ek geswot, geoefen en 100% reg geëet. A
lhoewel dit sy tol geëis het op haar sosiale lewe, het al haar harde werk vrugte afgewerp. Sy het verlede jaar reeds SuidAfrika in die FitModel Wêreldkampioenskappe verteenwoordig en ‘n negende plek behaal.
Die jaar het sy egter nog harder gewerk en seker gemaak sy kry weer haar Sedibeng-kleure om eers provinsiaal en toe nasionaal te gaan meeding.
Sy het ‘n tweede plek in haar afdeling vir onder 160cm behaal en is weer vir die Proteaspan gekies.
Die FitModel Wêreldkampioenskappe is die jaar weer in Litoue gehou met 200 atlete van 20 lande.
Kisia het ten spyte van ‘n vlug wat verpas is en haar bagasie wat verlore geraak het, steeds geskitter tydens die dag van die kampioenskappe.
Sy het ‘n derde plek verower en was die enigste Suid-Afrikaner wat in enige afdeling onder die top drie geëindig het.
Om gesond te leef en fiks te bly is vir haar baie belangrik. Sy het op vyf al begin met modelwerk en het op daardie stadium ook vir die eerste keer hokkie gespeel.
Later jare sou sy vir die Hoërskool Transvalia skitter in onder andere bergfietsry, hokkie, landloop, driesprong en verspring.
“Ek het my groot doelwit bereik. Om hierdie sport te beoefen vra uiterste dissipline en opoffering. Ek het dit geniet, maar ek dink ek gaan nou eers ‘n jaar rus voordat ek weer so iets aanpak… alhoewel dit is nou my lewenswyse…”