Oud-Valie sterf na intense angs en depressie

Wynand Scheepers se Kaapse en Vaaldriehoekse vriende en familie het die afgelope week in twee aparte lewensvieringe van hom afskeid geneem.

 

Die soektog na ‘n oud-inwoner van die Vaaldriehoek, Wynand Scheepers (35), het op 6 Oktober tragies geëindig toe hy in ‘n park naby sy woning in Wynberg, Kaapstad, gevind is. Niks kon egter meer vir hom gedoen word nadat hy besluit het om ‘n einde aan sy jarelange geveg teen erge angs en bipolêre depressie te maak nie.

Wynand is op 20 Maart 1989 in Vereeniging gebore en het sy skoolloopbaan aan die Laerskool Vryheidsmonument en HTS Vereeniging voltooi. Na skool het hy in Bedryfsielkunde aan die Noordwes-Universiteit se plaaslike kampus studeer, waarna hy in Meyerton gaan woon en by die Polisiediens se siviele afdeling in De Deur aangesluit het. Hy het ‘n paar jaar gelede na die Wes-Kaap verhuis, waar hy onder andere vir FNB en Sigma gewerk het. Hy was ten tyde van sy dood ‘n aanlynondersoeker vir ‘n bank in Engeland.

Sy Vaaldriehoekse en Kaapse vriende het op 6 Oktober met kommer kennis geneem van sy ma, mev. Belinda Scheepers, se Facebook-boodskap dat hy in die suidelike voorstede van Kaapstad vermis word. Wynand het nooit ‘n geheim daarvan gemaak dat hy teen intense gemoedsversteurings veg nie, en mense na aan hom het toe reeds die ergste gevrees.

Een van sy Facebook-plasings van ‘n tyd gelede, verwoord sy emosies só: “Hoe moet ek sin maak uit die waansin wat ek onder die oppervlak van my wese voel karring? Waar is my Ware Noord in hierdie wêreld en hoe kry ek toegang daartoe na so lank? Kan ek hierdie wa omdraai en in een of ander rigting stuur wat vrede en liefde en stabiliteit sal bied?”Hy het die afgelope jare aan sy hartsmense vertel van sy voortdurende gevoelens van verlorenheid, leegheid en gebrekkige selfwaarde wat ondanks psigoterapie en medikasie, nie wou verdwyn nie.
“Dit is oneindig hartseer dat iemand wat soveel liefde gehad het om te gee en so ‘n groot hart vol omgee vir ander gehad het, nie genees kon word nie,” sê een van sy vriendinne.

Sy ma, wat die afgelope week Kaap toe was om sy laaste sake af te handel en sy persoonlike besittings te gaan haal, is nog platgeslaan deur die gebeure. “Hy wou altyd almal help,” sê Belinda, wat ‘n baie hegte verhouding met haar seun gehad het.
Sy sê Wynand het graag gestap en berg geklim. “Sy suster sê as jy seer was, het hy die lekkerste drukkies gegee, maak nie saak wat jy gedoen het nie. Hy het dit gelove om mense skrik te maak. Ons sal sy lag altyd onthou.”

Wynand word buiten sy ma oorleef deur sy suster en haar dogtertjie wat in Engeland woon. ‘n Groetdiens is Woensdag deur sy Kaapse vriende in ‘n natuurgebied aan die oostelike hange van Tafelberg gehou. Sy Vaaldriehoekse familie en vriende het Vrydag van hom afskeid geneem tydens ‘n gedenkdiens by Chrisma-gemeente in Duncanville, Vereeniging.
“Ek en my familie bedank elkeen wat ons tot dusver bygestaan het. Baie van die mense ken ons nie eens nie, maar julle was daar om te help. Nogmaals baie dankie,” sê Belinda.

Wyle Wynand Scheepers (35)

Sy familie en vriende sal sy mooi hart en glimlag nooit vergeet nie.

 

Exit mobile version