Mirandi leef met bloedklont op brein

Afrikaanse sangeres, Mirandi, se aanhangers is bekommerd oor haar.

VEREENIGING – Mirandi Mörsner, een van die Vaaldriehoek se blinkste sangsterre, leef nou al ‘n maand met ‘n bloedklont op haar brein.

Sy het in September ‘n verskriklike hoofpyn gekry. “Dit was anders as enige migraine of kopseer wat ek al ooit gehad het. Dit het gevoel asof my brein van binne af buite toe druk,” vertel sy.

Sy kan nie veel onthou van wat alles in die week van 7 – 13 September gebeur het nie. Sy onthou wel dat haar tong begin sleep het, dat sy deurmekaar was en verskriklik moeg.

Haar pa het haar dokter toe geneem waar sy ‘n inspuiting gekry het. “Ek onthou die dokter het dadelik begin spesialiste bel en vir my ‘n plek in die hospitaal gesoek.

“Sy het nie gesê hoekom sy dit doen nie. Ek was so deurmekaar. Ek kon op daardie stadium nie eens meer mooi sien nie,” onthou sy.

Teen 12:00 was sy in die hospitaal en is daar die volgende oggend ‘n MRI-skandering gedoen. Dit blyk toe dat ‘n bloedklont aan die linkerkant van Mirandi se brein gevorm het.

Mirandi is dadelik op bloedverdunners geplaas. “Die spesialis het gesê dat die bloedklont baie vinnig moes gevorm het en dat dit net betyds opgespoor is. Ek sal nou vir die res van my lewe bloedverdunners moet drink.”

Hoekom die bloedklont presies daar gevorm het, kan niemand sê nie, maar volgens Mirandi het die dokter gesê dis baie raar.

“Ons bid dat die bloedverdunners sal help om van die bloedklont ontslae te raak. Dit kan my dood of erge breinskade veroorsaak.”

Mirandi was teen 14 September weer terug op die verhoog by die Velliefees in Heidelberg.

“Ek het glad nie goed gevoel nie, maar het deurgedruk. Na my vertoning het ek van die verhoog af geklim en amper inmekaargesak. Gelukkig was die paramedici dadelik op die toneel en hulle het my gehelp.”

Sy het ‘n afspraak met ‘n neuroloog op 19 November. Tot dan pak sy steeds elke dag in geloof en met hope energie en passie vir haar musiek en gesin aan.

Exit mobile version