Oom Jurie sterk goed aan na huisaanval

Bejaarde oorleef gru aanval in sy huis.

VANDERBIJLPARK – Dis drie weke na die gru aanval op Jurie Wessels (86) in sy huis in CW1. Oom Jurie, soos wat hy bekend is, sterk goed aan.

Hy is op 27 September in sy huis ingewag en sewe keer met ‘n swaar voorwerp oor die kop en arms geslaan.

Hy het probeer terugveg en daarin geslaag om by die voordeur uit te kom en om hulp te roep.

Links: Oom Jurie Wessels lees die Vaalweekblad met sy storie op die voorblad. Sy kleindogter, Annél Willemse, sê haar oupa het met trane in sy oë gesê: “dankie Gerdatjie dit is regtig ‘n baie mooi storie, baie mooi geskryf.” Foto: Annél Willemse

Die aanvaller is weg met sy selfoon en R700. Die polisie en nooddienste was gou op die toneel en Oom Jurie is met onder andere skedelbreuk in ‘n plaaslike hospitaal opgeneem.

Hy is sowat ‘n week later ontslaan. Ongelukkig was sy beserings van so aard dat hy nie meer alleen in sy huis kon woon nie.

Sy dogter en skoonseun het vir hom ‘n plek in ‘n aftreeoord naby hul huis gekry. Dit was vir almal baie hartseer, maar hy pas goed aan in sy nuwe omstandighede en word daagliks deur sy dogter en kleindogter besoek.

“My pa het kort na die voorval skeef geloop. Hy het die heeltyd links getrek, maar dis al baie beter. Hy loop weer reguit en tel selfs plek-plek die loopraam op om vinniger te kan beweeg,” het sy dogter, Rachel Willemse, laat weet.

Die sewe wonde op sy kop genees ook baie mooi. Die pleisters is verwyder en die steke begin oplos.

“Die brein het maar seergekry, mens kan dit sien, maar hy is beter. Hy gaan erge littekens oorhou. Pa is meer vergeetagtig en soms deurmekaar.”

Oom Jurie sê hy is ‘n sterk mens en hy gaan hom nie laat onderkry nie.

Exit mobile version