Local newsNewsNews

66 jaar later en steeds gelukkig getroud

Vick en Gerda Trollip is al vir meer as ses dekades getroud. Wat is hul geheim vir 'n gelukkige huwelik? Lees meer

MEYERTON – Gerda en Vick Trollip sal 14 Desember hul 67ste huweliksherdenking vier.

Die egpaar was destyds in dieselfde laer- en hoërskool in Crosby, Johannesburg.

Vick en Gerda Trollip op hul troudag, 14 Desember 1957.

Alhoewel Vick (89) sy een nier en blaas verloor het weens kanker, sê hy: “Ek is nog so gesond soos ‘n vis in die water.”

Die twee is dit eens dat die resep vir ‘n gelukkige huwelik wedersydse respek en ruimte vir mekaar insluit.

Deur die jare het hul saam baie gedoen, maar ook hul eie belangstellings gehandhaaf.

Gerda (86) het vir jare pos in die groot poskantoor in Jeppestraat gesorteer. “Dit was ‘n halfdagpos,” onthou sy. Dan brei en hekel sy steeds elke dag.

Vick was onderwyser by wat vandag bekend staan as LSEN-skole. Hy het ook graag geskilder en insekte en ander goggas versamel.

Sy insekte versameling is goed geliasseer en teen die mure pryk geraamde krappe van verskeie groottes.

“Ek het baie van my goggas en insekte in ander lande gekry,” vertel hy trots. “Ons het na sy aftrede veertien lande op verskeie reise besoek. Dit sluit plekke in Europa, die Ooste en Namibië in,” beduie Gerda.

Nadat hul baie lank in Triomf gebly het, het hul in Witpoortjie gaan aftree. “Ons het 21 jaar in die oord vir bejaardes gebly.

“Dis dieselfde plek waar Huis Lelieveld opgeneem is en ons twee was gereeld ekstras,” vertel Vick met ‘n vonkel in die oog.

Hulle mis die oord, maar het sowat vier jaar gelede Meyerton toe verhuis om nader aan hul kinders te wees.

Die egpaar het drie kinders, drie skoonkinders, ses kleinkinders en nege agterkleinkinders.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button