Boeremusiek Rocco-styl by Etienne Rousseau-teater

SASOLBURG - As jy gedink het 'n klaviervertoning is "boring", het jy nog nie een van Rocco de Villiers se vertonings bygewoon nie.

Dit het ek verlede Sondag besef toe Rocco se vertoning: Boeremusiek Rocco-styl by die Etienne Rousseau-teater aangebied is.

Kort nadat die vertoning begin het was intens dankbaar dat daar goeie ondersteuning vir die klas van vertoning was, want sulke talent verdien na regte ‘n groot gehoor.

Dit was ‘n uitsonderlike, professionele vertoning deur een van die beste pianiste wat Suid-Afrika nog opgelewer het.

Daarby saam het hy die verhoog gedeel met twee uiters ervare musikante: Lizelle le Roux op viool en Hansie Roodt jr. op kitaar. ‘n Wen-kombinasie!

Rocco en Hansie Roodt jnr.

Saam het hulle ou bekende keurspele van Jim Muller en musiek van legendes soos Nico Carstens en Hansie Roodt sr. se musiek weer laat herleef.

Maar alles in Rocco se kenmerkende styl, en gepas om mense met nuwe oë na boeremusiek te laat kyk.

Daar was natuurlik ook van Rocco se eie komposisies wat die hele ervaring baie besonders gemaak het.

So tussendeur die soet klanke was daar ook tyd vir Rocco om van sy komiese ervarings en paar grappe te deel.

Die grappe was goed (en soms lekker stout), maar dit het die gehoor laat skaterlag.

Na afloop van die vertoning kon daar nie soos voorheen CD’s in die voorportaal gekoop word nie, maar daar was geleentheid vir Valies om Rocco te ontmoet en selfs ‘n foto of twee te neem.

Emma Posthuma en ma Drinie van Vanderbijlpark saam met Rocco na die vertoning. Klein Emma is een van Rocco se grootste aanhangers.
Ella Vermeulen (93) van Vanderbijlpark saam met Rocco. Aanhanger en kunstenaar het onderskeidelik hul kinderjare in Harrismith geniet.
Maretha Rall en haar dogter Mea van Sasolburg saam met Rocco.
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version