Valia op die kruin van die gholf-golf

VANDERBIJLPARK - Hoërskool Transvalia spog met 'n uitstekende gholfspan wat gedurende die skoolvakansie vir spog-prestasies op die setperke gesorg het.

Die span bestaande uit Janko Vrey, Markus Maree, Wihandré Kruger en Christopher Smith het die skool verteenwoordig by die finaal van die hoogs aangeskrewe Noordvaal-kompetisie.

Slegs die top 12 beste skolespanne in Gauteng is gekeur om aan die kompetisie deel te neem wat vanjaar by die die Waterkloof-gholfbaan in Pretoria gehou is.

Wihandré was die skool se top-presteerder met ‘n totaal van 77 in uiters koue en winderige toestande.

Dit was ‘n merkwaardige rondte en een van die top 5 beste rondtes vir die dag.

Hierdie puik rondte het bygedra dat die skool met ‘n algehele vierde plek uit die stryd getree het.

Die vier manne het in die proses met sterk skolespanne van Menlo Park en EG Jansen afgereken.

Direk na hierdie toernooi het Janko, Wihandré, Markus en JP van Dyk na die SA Hoërskole Toernooi by die Mount Edgecombe Gholfbaan in Durban vertrek, waar hulle die Vaaldriehoekse Provinsiale Hoërskole-span verteenwoordig het.

Janko het skitterende gholf opgedis en die algehele 7e plek behaal.

Wat hierdie prestasie so merkwaardig maak is dat hy deelgeneem het teen sowat 100 van die beste jong spelers in Suid-Afrika.

“Sy harde werk deur die jaar het vrugte afgewerp en ons hier by Valia is baie trots op hom en ons ander gholfseuns wat bereid was om hard te werk deur die jaar,” sê die skool.

En Vaalweekblad stem saam: “Ons hou hul vordering met belangstelling dop.”

Valia se trots! Die eerste gholfspan is van links: Christopher Smith, Wihandré Kruger, Markus Maree en Janko Vrey.
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version