Local newsNewsNews

Die keer kon ek werk en ontspan

RUBRIEK - Soms kom 'n wille werksnaweek tot 'n lekker kuier einde.

RUBRIEK – Ek was weer die naweek op diens. Dit beteken jy moet soveel as moontlik goete, geite en dinge bywoon.

Beplan jy nie goed genoeg nie, kan jy soos ‘n afkop hoender die Vaaldriehoek die heel naweek deurkruis, tot jy naderhand nie meer weet waar is jy aan of af nie.

Ek noem dit tref en trap stories. Ek storm kamera in die hand by ‘n plek in. Stel myself voor, neem foto’s, maak ‘n paar aantekeninge en verdwyn dan weer.

Die naweek was weer een vir die boeke. Storm Saterdagoggend by die Centurions MC se klubgronde in.

Gelukkig is vriendin Jacke op eerstehulp diens. Sy verstaan hoe dit werk.

“Ok, waai vir DJ Ben. Dan gaan jy nou daai twee afneem. Jy hou mos van hul motorfiets. En dan daai twee. Sy been was verlede week nog in gips. O ja… en laat ek jou gou voorstel…”

So na die vierde foto roep ek halt. “Nee, genade. Ek moet eers sit.” Die einste DJ Ben lag vir my en Jacke gee ‘n glas koeldrank aan voordat ek voortstu om nog stories te gaan kry.

Sondagmiddag was egter anders. Ek vind my weg Vereeniging toe om Lion Jay & Friends se Country fees te gaan bywoon.

Die gedagte was vir ‘n tref en trap storie, maar toe draai dit geheel anders uit. Leon alias Lion Jay met sy helder rooi hemp en stetson hoed, groet asof hy my al jare ken.

“Sit sommer hier by die ander sangers,” beduie hy. Ek land langs Mientjie van die Rodeo Girls. Ons gesels.

Die musiek begin. Elke sanger haal liedjies uit my kinderdae uit. Stof dit af en sing dit omkrultoonlekker. Ek neem foto’s. Gesels nog. Kuier te lekker.

Die middag vlieg verby. Die Country-familie is beslis ‘n gemoedelike klomp mense. Hulle ondersteun mekaar. Terg mekaar. Dans sommer so tussenin.

“Het jy die middag darem geniet?” vra Mientjie met die groetslag. “Ek het,” glimlag ek.

Moeg was ek na die naweek se doen en late wel, maar die middag sal ek vir niks verruil nie.

Dankie aan Will Jordan, Suzette Jacobs, Corné Rust, Lion Jay, Colin Dee, die Rodeo Girls (Mientjie, Tessa en Christine) en die personeel van Tuscany Inn vir ‘n middag waar ‘n joernalis kon werk, maar ook kon ontspan en geniet.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button