Sanger Vernon sê dankie vir ‘God’s Warriors’ se steun

“Ek wil vir elkeen wat daar was baie dankie sê dat julle jul kosbare tyd afgestaan het om my te kom bystaan."

 

VANDERBIJLPARK. – Vriende, familie en ander bewonderaars van die sanger Vernon Muso het ver;ede Saterdag by Die Veiling Restaurant saamgetrek vir ‘n pretdag om geld vir sy mediese uitgawes in te samel.
Vernon voer die afgelope maande ‘n dapper stryd teen kolonkanker en het die afgelope week juis weer opvolgbehandeling ontvang.

‘n Kontantbedrag van R1 550 is verlede Saterdag ingesamel, en danksy Die Veiling se skenking van ‘n heel lam wat opgeveil is, is ‘n verdere R3 100 ingebring. Die totale ingesamelde bedrag staan nou op R4 650.

“Ek wil vir elkeen wat daar was baie dankie sê dat julle jul kosbare tyd afgestaan het om my te kom bystaan. Ek kan nie eers my waardering in woorde omsit nie,” het Vernon agterna gesê. “Ek sal hierdie gebaar nooit vergeet nie. Hierdie fondse gaan help om die koste van my medikasie en die vervoer hospitaal toe en terug te dek, sowel as ander mediese toerusting wat ek so broodnodig het, so julle kan my dankbaarheid imagine.”
Hy rig ook spesiale dank aan Herman Pieterse van Die Veiling vir sy gewaardeerde insette.

Vernon het Maandag uit sy hospitaalbed laat weet sy bloedtoetse wys dat hy ‘n bloedoortapping van ten minste twee eenhede benodig omdat hy steeds inwendig bloei. Die oortapping kon egter nie dadelik gedoen word nie omdat sy kaliumvlakke te hoog was.
“Die ou lyfie voel maar broos en die struggle is real… Maar ou Vernon is ‘n soldaat met ‘n hele army God’s Warriors agter my. Ek het steeds my glimlag op,” het hy per WhatsApp laat weet.
Mense wat Vernon met ‘n donasie wil bystaan, kan ‘n inbetaling maak aan VR Philander, Standard Bank, Savings ACC number: 27 554 9364, Branch: Bayside, Branch Code: 022209.

Vernon tydens sy optrede by Die Veiling, verlede Saterdag.

Vernon Muso tydens die fondsinsameling wat verlede Saterdag vir hom by Die Veiling Restaurant in LochVaal gehou is. Hier kry hy ‘n drukkie van Raylee Wide, een van die talentvolle kunstenaars wat by die geleentheid opgetree het.

 

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version