Nasionale kleure vir 15-jarige Valia-gholfspeler

VANDERBIJLPARK - Janko Vrey het onlangs die derde leerling in die geskiedenis van die HS Transvalia geword om nasionale kleure vir gholf te verwerf.

Sy gunsteling gholfspeler is Rory McIlroy van Noord-Ierland en dit is sy droom om eendag ook professioneel gholf te speel.

As daar na die 15-jarige Janko Vrey se gholfprestasies gekyk word, is dit veilig om te sê dat sy droom waarskynlik ‘n werklikheid sal word.

Janko is ‘n graad nege-leerling aan die Hoërskool Transvalia en verteenwoordig reeds die afgelope twee jaar die skool se eerste gholfspan.

Hy het reeds verlede jaar bewys dat hy ‘n speler is om dop te hou toe hy die algehele 14de plek by die SA Hoërskole Gholf Toernooi behaal het. Hy is verlede jaar met Vaaldriehoek-, asook Noordwes-kleure beloon.

‘n Jaar later het dinge drasties verander. Hy is weer gekies om die Vaaldriehoekse Hoërskole span te verteenwoordig, maar vanjaar was hy ‘n sterk aanspraakmaker by SA Hoërskole Gholf Toernooi wat tydens die skoolvakansie in KwaZulu-Natal op Mt. Edgecombe in uMhlanga gehou is.

Die toernooi het oor twee dae gestrek, en 36 putjies per dag is gespeel.

Die 15-jarige Janko Vrey van HS Transvalia wat nasionale kleur vir gholf verwerf het.

Janko wat teen ouer spelers meegeding het (die toernooi is vir spelers van graad agt tot 12), het die algehele sewende plek verower.

Danksy dié puik vertoning is hy by die SA Hoërskole Gholfspan ingesluit en daarmee slegs die derde Valia-speler geword om Nasionale-kleure vir gholf te verwerf.

Om hierdie uitsonderlike prestasie te behaal kos egter harde werk en opoffering. Janko oefen 2-3 ure per dag.

Volgens Janko se trotse pa, Johan, speel Janko gholf vandat hy kan loop. “Dit is steeds sy passie en hy het ‘n groot liefde vir die buitelewe,” vertel Johan.

Janko is beslis ‘n speler om dop te hou.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version