Ouers pleit vir gebede vir klein Joshua

Dokters hoop dat die gewas genoeg gaan krimp sodat dit saam met sy regternier verwyder kan word

VANDERBIJLPARK. – Intensiewe behandeling lê voor vir Joshua van Niekerk, ‘n seuntjie van 17 maande, nadat hy onlangs met neuroblastoom-kanker gediagnoseer is. Dié skaars vorm van kanker ontwikkel in die senuweeselle van jong lyertjies.
Sy ouers, Chanél en Johan van Niekerk van Vanderbijlpark, vra dat almal vir Joshua moet bid. “Hy is ons enigste en ons álles. Ons het volle vertroue dat die Here hom gesond kan maak,” sê Chanél.

Joshua en sy ouers se beproewing het die aand van 18 Julie begin: “Ek was besig om hom te borsvoed toe ek ‘n groot knop aan sy regtersy onder sy ribbekas voel. Ons het hom die volgende dag na ‘n dokter in Vanderbijlpark geneem, wat ons gerusgestel het dat dit moontlik iets onskuldig was, maar ‘n sonar is gedoen net om seker te maak. Dit was toe dat hulle die gewas sien,” sê Chanél.
Joshua is dadelik na ‘n professor by Donald Gordon Medical Centre in Parktown, Johannesburg vir ‘n CT-skandering verwys. Daarmee is bevestig dat daar ‘n gewas van 8 cm by 11 cm op sy regterniertjie was. ‘n Biopsie het getoon dat dit stadium-3 neuroblastoom is, maar ‘n beenmurgtoets het bevind dat die kanker gelukkig nog nie versprei het nie.

Op 29 Julie het Joshua ‘n operasie ondergaan om ‘n poort-inplanting te doen, waardeur sy chemo-behandeling sedert 6 Augustus toegedien word.
“Hy kry baie aggressiewe chemo en moet elke 21 dae gaan vir sy behandeling. ‘n Week na elke sessie moet hy teruggaan om sy bloedtellings te laat toets. Sy haartjies het twee weke na sy eerste chemo begin uitval. Die is een van die moeilikste dinge om deur te gaan maar hy hanteer dit tot dusver verskriklik goed. Tydens sy chemo-behandeling braak hy verskriklik en wil so ‘n week en ‘n half na die tyd steeds niks eet nie. Hy het reeds drie sessies deurgegaan en na sy vierde gaan daar weer ‘n CT-skandering gedoen word om te kyk of die gewas al klein genoeg is om saam met sy regterniertjie verwyder te word. Na die operasie wil hulle nog so vier chemosessies doen,” sê Chanél

Hoewel die Van Niekerks ‘n mediese fonds het, word slegs ‘n gedeelte van Joshua se behandeling gedek. Boonop moes Chanél uit haar werk bedank om voltyds by Joshua te wees omdat hy weens sy lae immuniteit nie meer kleuterskool toe mag gaan nie. “Maar ons het net weer besef hoe baie krag daar in gebed is. Daar is so baie mense wat ons van geen kant af ken nie wat vir hom bid. Ons kan nie genoeg dankie sê daarvoor nie,” sê Chanél.

Mense wat die gesin geldelik wil bystaan met Joshua se behandeling, kan ‘n inbetaling maak aan: Joshua B. van Niekerk, Bank: FNB, Rekeningnommer: 63116517187, Verwysing: Skenker se selnommer.

Joshua se Back-a-Buddy-verhaal kan hier besoek word: https://www.backabuddy.co.za/campaign/joshua-fighting-cancer

Joshua van Niekerk voordat al sy haartjies weens sy chemo-behandeling uitgeval het.
Joshua van Niekerk , die Vaaldriehoekse seuntjie wat tans veg teen kanker.

 

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version