Local newsNewsNews

Mnr. Pre-Teen ‘n groot Elvis aanhanger

Maak nader kennis met Franco Alberts, 'n leerling van die Laerskool D.F Malherbe met 'n string titels agter sy naam.

VANDERBIJLPARK – Elvis, soos in Elvis Presley. Die Koning van Rock en Roll. Dis jonge Franco Alberts se groot held.

Die kannetjie is ‘n graad ses leerder aan die Laerskool D.F. Malherbe, maar dis die goeie musiek van die verlede wat hom na aan die hart lê.

Franco het as Elvis Presley sy verskyning gemaak in die Gr. 6 klas se kaskar optog die jaar. Foto: Gerda Bruinette

“Ek weet wie is Kenny Rogers, Dolly Parton en Michael Jackson ook,” beduie hy. Die jongman is netjies. Nie ‘n haar uit sy plek nie.

“Hy vat ure om klaar te maak,” terg sy mede-Central South Africa Pageant (CSAP) titelhouer, Jordan Petersen hom. Jordan is CSAP se Mr Teen 2023/2024 en Franco is Mr Pre-Teen.

Dis maar een van vele titels wat Franco hierdie jaar al in die sak het. “Ek het ‘n passie vir modelwerk en kompetisies,” sê hy ernstig.

Agter sy naam staan onder andere Mr Pre-Teen King of the World 2024, Mr Pre-Teen Tourism 2024, Mr Mini Teen South Africa 2024 en Mr Face of Africa 2024.

Die Mr Vaal kompetisie lê nog voor in November en dan is hy ook ‘n finalis vir Mr Teen South Africa later die jaar. Franco doen al modelwerk vandat hy as driejarige by ‘n modelskool begin het.

Franco as model. Foto: Nicole Menino-Ackerman

Hy geniet dit veral om as deel van die CSAP-span liefdadigheidswerk te doen. “Ons het al vir die diere gaan kos gee en vir minderbevoorregtes kos en klere gaan uitdeel. Een van die dae gaan ons ook by Vaalpets help met die honde,” vertel hy opgewonde.

Die slag toe hulle klere vir minderbevoorregtes gaan uitdeel het, het hy sommer die tas waarin die klere was ook weggegee.

Sy ma was nie beïndruk nie, maar vir Franco het dit sin gemaak om klere en tas saam weg te gee.

Wanneer hy nie besig is met modelwerk nie, is hy bedrywig by die skool. Hy speel hokkie en is ‘n kookwater doelwagter.

Franco Alberts het reeds as kleuter geweet hoe om met die kameralens te gesels. Foto verskaf deur Dalien Alberts

Vroeër vanjaar het hy ook geskitter by die Vaaldriehoek Kunstefees waar hy aan verskeie items deelgeneem het en A++ verower het.

Alhoewel hy modelwerk geniet wil hy eendag Regte gaan studeer. “Ek weet nog net nie of ek ‘n prokureur, advokaat of regter wil word nie,” dink hy hardop.

Dis gelukkig eers later se probleem, vir nou geniet hy dit om die titels in te ryg en net soms “die onnies by die skool mal te maak.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button