Moedersdag geskenk uit die boonste rakke

Sy wou net proe en leer hoe om dit te maak en vandag is sy 'n meester ginmaker.

MEYERTON – Haar glimlag is breed, oë vriendelik en vol lewenslus. Dis duidelik Lizl Giacomozzi pak die lewe met hope lewenslus aan.

Stil sit was nog nooit hoog op haar lewenspyskaart nie. Op laerskool in De Deur en later aan die Hoërskool Dr. Malan was sy bedrywig op die sportvelde.

Vele prestasies behaal, maar sy lag dit af as deel van die verlede, daar is mos nou vele ander dinge wat haar opgewonde maak.

Waar dit alles begin het… Gin-skool in Stilbaai.

Na skool het sy lank vir ‘n maatskappy gewerk totdat sy die groot liefde in haar lewe, Luigi, raakgeloop het. “Ek het 12 jaar op een plek gewerk en toe besluit ek nou gaan ek kinders grootmaak,” beduie sy.

“Ek het egter gou besef ek kan nie heeldag by die huis wees nie, toe begin ek hustle,” lag sy vrolik.

Daar was die tyd wat sy swembaddens gebou het, vir haar broer gewerk het om Ma Dolly’s souse te bemark en op ‘n stadium het sy haar eie salon gehad.

Tussendeur was sy ma van drie seuns wat haar goed op haar tone gehou het. Haar grootste passie is die bestuur van haar besigheid, Liqco Beverages, en om gin te maak.

Lizl Giacomozzi by die Moedersdag geskenk wat sy by haar man in 2017 gekry het. Dit het ‘n nuwe wêreld vir haar oopgemaak. Foto’s verskaf deur Lizl

“In 2017 was ek en Luigi op vakansie in Stilbaai en daar word ‘n gin-proesessie aangebied. Ons doen dit toe en ek hoor van die gin-skool. Ek wou nog altyd weet hoe maak hulle gin en as mens op vakansie is, het jy tyd,” brei sy uit.

Dit was op pad huis toe wat sy haar man meegedeel het, sy wil gin maak. Hy het geluister. In Mei daardie jaar toe koop hy vir haar ‘n pot still (distileerpot) vir Moedersdag.

“Dit was die beste geskenk ooit. Ek het dadelik begin eksperimenteer en met baie trial en error het ek kort voor lank my eerste twee gins op die mark gehad.”

Sy het haar nuwe gins Commozi genoem en dit was treffers van dag een. Sedertdien het sy nasionale en internasionale pryse verower en word die lysie van produkte wat deur haar maatskappy vervaardig word al hoe langer.

“Ek loods een van die dae my eie suikerlose tonic. Weet jy, ek het vir ‘n jaar nie my eie gin gedrink nie, want die tonics op die mark was vir my regtig sleg. Nou bring ek my eie uit,” vertel Lizl.

Sy maak nog steeds al die gin self uit dieselfde pot still wat sy destyds as geskenk gekry het. En om te dink dit het alles met ‘n proe-sessie op vakansie begin.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version