Local newsNews

Piet Pienaar: ‘Hy’t mense bymekaar gekry en bymekaar gehou’

Kanker eis geliefde ouditeur van Vaaldriehoek en Parys

 

VANDERBIJLPARK. – “Cut the commercials”. Dit is hoe kliënte, vriende en familie Piet Pienaar geken het – eerlik en op die man af. Iemand met ‘n vrygewige hart wat altyd tyd gehad het vir pret. Die beste baas ooit vir wie jy kon werk, vertel Corien Pretorius wat vir meer as 16 jaar in sy dien was. Piet het die afgelope jaar ‘n stryd teen kanker gestry, en is Donderdag 26 September in die ouderdom van 73 jaar oorlede.

Hy het in 1980 die ouditeurspraktyk PJ Pienaar & Kie in Vanderbijlpark (vandag bekend as Pro Audit Services) begin, waarna hy ook die praktyk, Finrek Finansiële Dienste in Parys oorgeneem het. Piet was tot sy dood aktief by beide praktyke betrokke.

Piet het in Jacobsdal grootgeword en het na matriek sy ouditeurstudies aan die Universiteit van die Vrystaat voortgesit.

“Hy sal met net die mooiste herinneringe onthou word as iemand wat ‘n vriend was vir almal, ‘n diep, goeie mens wat mense nie net bymekaar gebring het nie, maar bymekaar gehou het. ‘n Merkwaardige man, altyd vriendelik en baie sosiaal,” onthou Lou van Wyk hom.
Hy was iemand wat ‘n groot liefde vir jag, visvang, kamp en die natuur gehad het, maar wat ook ‘n waardevolle bydrae in sy gemeenskap gelewer het, onder meer met sy betrokkenheid by die Vanderbijlparkse Sakekamer.

Hy word oorleef deur sy vrou, Tessa, kinders Pierre en Annelize, sy “bonusdogters” Tanya en Chantelle, en sy kleinkinders.
Sy gedenkdiens is Vrydag om 10:00 by die NG Kerk Vaalrivier in Vanderbijlpark gehou.
Die familie bedank graag elkeen wat hulle in hierdie moeilike tyd bygestaan het.

Wyle mnr. Piet Pienaar.
Wyle mnr. Piet Pienaar, hier saam met sy vrou Tessa.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button