‘Groot trek’ van die skape ‘n epiese Karoo-avontuur

Die groot trek te voet met skape oor 'n afstand van sowat 180km is 'n unieke avontuur, en Valies kan deel wees hiervan.

“Dit is maar wat ons voorouers gedoen het. Hulle was trekboere wat agter weiding en water moes trek. Hedendaagse boerderye gebruik ander metodes, maar ons laat hierdie tradisie voorleef,” vertel CJ Badenhorst (31) van die Op Vakansie Boerdery.

Die trek met die skape van ‘n somerweiding na ‘n winterweiding en weer terug, is ‘n groot gebeurtenis.

“As mens nie trek nie, moet jy voer,” sê CJ.

Skaapboer CJ Badenhorst en sy vrou, Lizri.

Die meeste ander boerderye ry egter hul skape met vragmotors aan omdat dit natuurlik makliker en vinniger is.

“Ek trek te voet omdat ek daarvan hou en omdat ek wil,” sê CJ trots. Hierdie jaar se somertrek sal sy tiende wees.

Aan die begin het net vriende en familie die trek meegemaak, want dit is natuurlik ‘n groot ervaring.

Sowat twee jaar gelede het Op Vakansie Boerdery dit vir die publiek oopgemaak om die trek saam te doen. Volgens CJ lok dit groot belangstelling onder Valies ook.

Die geleentheid word deur stadsjapies as ‘n onvergeetlike avontuur en vakansie-geleentheid beskou.

Maar dit is nie sommer vir enige een nie.

Die groot trek duur sowat twee weke en om deel te wees van een van die twee weke kan jou sowat R10 000 per persoon uit die sak jaag.

So herleef jy die trekboer-lewe. Die jaarlikse skaaptrek lok groot belangstelling.

Maar dit is ‘n unieke staptog wat geldwaarde oorskry – en dit sluit darem onder meer oggend, middag en aandete in, koffie/water/vrugtesap en ‘n heerlike kuier om die kampvuur saans.

Vanjaar begin die “trek” op 3 November op die plaas Gemsbokrivier, in die Knechtsvlak (deel van Namakwaland), na die plaas Dikpens in die Boesmanland.

Daar is sowat 800 skape in die trop en die skape bepaal die pas waarteen daar gestap word. Na verwagting sal daar sowat 15km per dag afgelê word.

Middae, tydens die ergste hitte van die dag, sal daar gerus word. Daar is darem tente en matrosse wat die nagrus onder die sterre gemaklik maak, asook twee voertuie vir al die bagasie, en vir wanneer iemand te moeg is om verder te stap.

Goeie stapskoene word beslis aanbeveel.

Valies wat kans sien vir die avontuur kan CJ op WhatsApp kontak: 073 675 2078.

CJ se kinders tydens ‘n vorige trek. Sy dogter Elena het tydens die wintertrek 5 geword, en sy seuntjie André sal 3 word tydens die somertrek.
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version