Local newsNewsNews

Tyd vir mans om ‘ballsy’ te wees

Wat vyftien jaar gelede begin het met ’n paar dapper geeste wat in spitsverkeer in speedo’s gehardloop het, het ’n nasionale verskynsel geword wat aandag op prostaatkanker en testikulêre kanker vestig.

Vrydag, 1 November is dit weer tyd vir die Groot, brawe, ballsy 2024 Hollard Daredevil Run.

Dié prettige wedloop, bekend vir sy kenmerkende pers speedo’s, bied ‘n waardevolle platform om bewustheid te skep oor mans-kankers.

Sedert 2021 word die hoofwedloop van die Hollard Daredevil Run by die Johannesburg Dieretuin aangebied, met kleiner wedlope in dorpe landswyd.

Verlede jaar is ’n totaal van R 700 000 ingesamel en is vandeesweek aan die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) en die Prostaatkankervereniging van Suid-Afrika oorhandig.

Dit sal gebruik word vir toetsing in minderbevoorregte gebiede, asook vir ondersteuning en navorsing.

Volgens Joani Sadie, Korporatiewe Verhoudingsbestuurder by KANSA, het vorige befondsing van die Hollard Daredevil Run KANSA in staat gestel om tussen Januarie 2022 en Maart 2023 meer as 2 000 Prostaatspesifieke Antigeen (PSA)-bloedtoetse uit te voer.

Hierdie bloedtoetse neem net ’n paar sekondes, maar hulle red moontlik lewens, aangesien hoë vlakke van die proteïen PSA op die teenwoordigheid van prostaatkanker kan dui.

Een uit ses mans sal gedurende sy leeftyd met prostaatkanker gediagnoseer word, en na verwagting sal hierdie kanker teen 2030 die algemeenste kanker onder mans in Suid-Afrika wees.

In Suid-Afrika het swart mans ’n 60% hoër risiko om die siekte te ontwikkel in vergelyking met ander bevolkingsgroepe.

Terwyl dit nie so algemeen is nie, bly testikulêre kanker die algemeenste kanker onder jong mans tussen 15 en 35 jaar oud, wat ongeveer 1 uit 250 mans affekteer.

Die Hollard Daredevil Run poog om die belang van vroeë opsporing van prostaat- en testikulêre kanker te bevorder.

Die oorlewingsyfer is 95% vir mans wie se prostaatkanker vroeg genoeg opgespoor word. Die vyfjaar-oorlewingsyfer vir mans wat vir vroeë stadium testikulêre kanker gediagnoseer en behandel word, is meer as 98%.

Die Hollard Daredevil Run bied ’n ligter gesprek en opvoedkundige voordeel vir mans oor ’n angswekkende onderwerp.

Inskrywings vir die 2024 Hollard Daredevil Run is beskikbaar by Ticketpro en beloop R180 wat die afleweringskoste van die registrasiepakket en ‘n pers speedo insluit.

Meer inligting is by daredevilrun.com beskikbaar.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button