Local newsNewsNews

Entrepreneur wil ander ook inspireer

Sy het die groot stap geneem om haar droom te volg en vandag glimlag sy van oor tot oor.

VEREENIGING – Dalene Swanepoel se man, Gideon, het haar die goeie raad gegee: “As jy ‘n droom het, volg dit.”

Dalene het gehoor, maar dit het jare geneem voordat sy besluit het dis nou tyd. ‘n Harde en lojale werker was sy nog altyd en het vir 16 jaar haar beste gegee by die maatskappy waar sy gewerk het.

In haar agterkop het sy egter geweet, daar is meer wat sy wil doen. Desember 2023 het sy uiteindelik die groot stap geneem, haar werk bedank en haar eie aanlyn besigheid geopen.

“Sjoe, dit was senutergend. Maar van dag een af het ek geweet dis wat ek wil doen. Dit was ‘n groot sprong vir my, maar ek was nog nie een dag spyt nie,” beduie sy.

Sy het onlangs oor ‘n 100 000 mense gehad wat een van haar TikTok video’s gekyk het. Gideon loop breëbors rond oor sy Dalene wat so goed vaar.

Haar aanlynwinkel verkoop allerlei nuwe produkte en geskenkpakke. Tans bedryf sy nog haar besigheid vanuit hul huis in Drie Riviere en lag lekker omdat daar pakkies, strikkies en produkte die wêreld vol staan.

“Ek loop ‘n pad saam met elke kliënt. Nou die dag het ‘n tannie my in trane gebel om dankie te sê,” vertel Dalene.

“Om jou droom te volg is nie maklik nie, maar dis die moeite werd. “Hierdie droom het nou vlerke gekry. Ek gaan nog my eie winkel oopmaak en nog meer mense van werk voorsien,” vertel sy opgewonde.

Sy wil ander vroue inspireer om ook hul drome te volg. “Moenie bang wees nie en moet nooit moed opgee nie. Jy kan ook ’n verskil maak,” is haar raad aan ander. Gaan volg Dalene gerus op Facebook op haar blad FASH.

Dalene Swanepoel hou van alles wat mooi is in die lewe en geniet dit om ander mense se dae met kleur te vul.

You can read the full story on our App. Download it here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button